RUT 1:7-19

RUT 1:7-19 Bybel vir almal (ABA)

Sy het weggegaan van die plek waar sy was, en haar twee skoondogters was by haar. Hulle het begin loop om terug te gaan na die land Juda. Naomi het vir haar skoondogters gesê: “Julle moet teruggaan na julle ma's se huise. Ek bid dat die Here goed sal wees vir julle, soos julle goed was vir my oorlede seuns en vir my. Ek bid dat die Here weer vir julle elkeen 'n man sal gee in wie se huis julle veilig kan woon.” Naomi het hulle gesoen, maar toe begin hulle huil. Hulle het vir haar gesê: “Maar ons wil saam met jou gaan na jou mense toe.” Naomi het gesê: “Nee, my dogters, julle moet teruggaan. Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek kan nie nog seuns kry wat julle mans kan word nie. Julle moet teruggaan, my dogters, julle moet gaan, want ek is te oud om weer te trou. En ook, as ek dink ek kan miskien nog kinders kry, en ek slaap vannag by 'n man en ek kry seuns, dan sal julle nie kan wag totdat hulle groot is nie. Julle sal wil trou. Nee, my dogters, die Here laat my swaarkry, die lewe is bitter vir my, meer bitter as vir julle.” Naomi se twee skoondogters het weer begin huil. Orpa het vir Naomi gegroet en sy het gegaan, maar Rut het styf vasgehou aan Naomi. Naomi het vir Rut gesê: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar mense toe en na haar god. Jy moet ook teruggaan, saam met haar.” Maar Rut het vir Naomi gesê: “Jy moenie aanhou sê dat ek jou moet los en moet teruggaan nie, want waar jy gaan, wil ek ook gaan, en waar jy gaan slaap, wil ek ook gaan slaap. Jou volk is ook my volk, en jou God is ook my God. Waar jy sterf, wil ek ook sterf, en daar moet die mense my begrawe. Die Here is my getuie. Net die dood sal ons twee skei van mekaar.” Naomi het toe geweet dat Rut vas besluit het om saam met haar te gaan, en sy het nie weer met Rut daaroor gepraat nie. Naomi en Rut het verder geloop totdat hulle in Betlehem gekom het. Almal in die stad was opgewonde. Die vroue het gevra: “Is dit regtig Naomi?”

RUT 1:7-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

So het sy dan haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar. Maar toe hulle op pad was om na die land Juda terug te gaan, sê Naómi aan haar twee skoondogters: Gaan heen, draai om, elkeen na die huis van haar moeder; mag die HERE aan julle guns bewys soos julle aan die dode en aan my bewys het. Mag die HERE gee dat julle 'n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween en aan haar gesê: Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk. Maar Naómi sê: Draai om, my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam, dat hulle julle mans kan word? Draai om, my dogters, gaan heen; want ek is te oud om 'n man te hê. Al sou ek sê: Ek het hoop! en nog vannag aan 'n man mag behoort en ook seuns baar — sou julle in dié geval kan wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in dié geval julleself opsluit om nie aan 'n man te behoort nie? Ag nee, my dogters, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die HERE teen my uitgestrek is. Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang. Daarop sê sy: Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe; draai om agter jou skoonsuster aan! Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen — net die dood sal skeiding maak tussen my en u. Toe sy sien dat sy vas besluit het om met haar saam te gaan, het sy opgehou om met haar te spreek. En hulle twee het op pad gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe hulle in Betlehem kom, het die hele stad oor hulle in opskudding geraak, en die vroue het gesê: Is dit Naómi?

RUT 1:7-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe. Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. Mag die Here vir julle elkeen weer 'n goeie man en 'n heenkome gee.” Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.” Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by 'n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kon weerhou om te trou? Dit is onmoontlik, my dogters. Nee, my lot is swaarder as julle s'n: die Here het teen my gedraai.” Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly. Toe sê Naomi: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode toe. Gaan jy nou ook saam met haar terug.” Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.” Naomi het besef dat Rut vasbeslote was om saam met haar te gaan en sy het opgehou om haar te probeer ompraat. Hulle twee is toe saam na Betlehem toe. Met hulle aankoms in Betlehem was daar groot opgewondenheid in die stad, en die vrouens het gesê: “Maar dis mos Naomi!”

RUT 1:7-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Sy is toe weg uit die plek waar sy gewoon het, en haar twee skoondogters saam met haar. Op pad terug na die land Juda sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan, elkeen na haar ma se huis. Mag die HERE julle goed behandel soos wat julle die oorledenes en my goed behandel het. Mag die HERE gee dat julle elkeen 'n tuiste vind in die huis van 'n man.” Toe het sy hulle gesoen, maar hulle het hardop begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk!” Maar Naomi sê: “Draai om, my dogters! Om watter rede sal julle saam met my gaan? Is daar nog seuns in my liggaam wat vir julle mans kan word? Draai om, my dogters! Gaan terug, want ek is te oud om weer te trou. Al sou ek dink daar is nog hoop vir my, en selfs al sou ek reeds vannag 'n man hê, selfs aan seuns geboorte gee, sal julle vir hulle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle om daardie rede julleself daarvan weerhou om te trou? Nee, my dogters, dit is vir my baie swaarder as vir julle. Die HERE het immers sy hand teen my uitgestrek. ” Hulle het toe weer hardop gehuil. Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou. Naomi sê vir haar: “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe. Gaan terug, agter jou skoonsuster aan.” Maar Rut het geantwoord: “Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. “Die HERE kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.” Toe Naomi sien dat sy vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat. So het die twee van hulle toe aangestap tot hulle by Betlehem aangekom het. Toe hulle in Betlehem aankom, was die hele dorp in rep en roer oor hulle. Die vroue sê vir mekaar: “Is dit werklik Naomi?”

RUT 1:7-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom het sy uitgegaan uit die plek waar sy was, en haar twee skoondogters saam met haar; en hulle het op pad gegaan om terug te keer na die land Juda. Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: Gaan, gaan terug, elkeen na haar moeder se huis; die HERE bewys julle goed soos julle ook aan die dooies en aan my gedoen het. Die HERE gee julle dat julle rus kan vind, elkeen van julle in die huis van haar man. Toe soen sy hulle; en hulle het hul stem verhef en geween. En hulle sê vir haar: Ons sal sekerlik saam met jou na jou volk terugkeer. En Naomi sê: Keer terug, my dogters, waarom sal julle saam met my gaan? is daar nog seuns in my skoot, dat hulle jou mans kan wees? Draai om, my dogters, gaan weg; want ek is te oud om 'n man te hê. As ek sou sê: Ek het hoop, as ek ook vannag 'n man sou hê en ook seuns sou baar; Sou julle vir hulle vertoef totdat hulle groot is? sou jy vir hulle bly om mans te hê? nee, my dogters; want dit is vir my baie bedroef om julle ontwil dat die hand van die HERE teen my uitgegaan het. En hulle het hul stem verhef en weer geween, en Orpa het haar skoonmoeder gesoen; maar Rut het haar aangehou. En sy sê: Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode; keer terug agter jou skoonsuster aan. En Rut sê: Moet my nie smeek om jou te verlaat of om terug te keer om agter jou aan te volg nie; want waar jy gaan, sal ek gaan; en waar jy vernag, sal Ek vernag; jou volk sal my volk wees en jou God my God. Waar jy sterwe, sal ek sterwe, en daar sal ek begrawe word; so sal die HERE aan my doen, en so meer, as die dood jou en my net skei. Toe sy sien dat sy vasbeslote was om saam met haar te gaan, het sy opgehou om met haar te praat. Hulle twee het toe gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het. En toe hulle in Betlehem aankom, het die hele stad in beroering gekom en gesê: Is dit Naomi?

RUT 1:7-19 Die Boodskap (DB)

Op pad terug Juda toe sê Naomi vir haar skoondogters: “Gaan liewer terug na julle eie ouerhuise toe. Mag die Here julle met sy liefde versorg omdat julle so goed was vir my en julle mans. Ek bid dat die Here vir julle elkeen weer ’n goeie huweliksmaat sal gee.” Toe sy hulle groet, het hulle begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons gaan saam met Ma terug na Ma se mense toe.” Toe vra Naomi vir hulle: “Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek het tog nie nog seuns met wie julle kan trou nie! Gaan eerder huis toe, ek is te oud om weer te trou. In elk geval, wat sou dit julle help? Al trou ek vandag en bring weer seuns in die wêreld, wat dan? Gaan julle wag tot hulle oud genoeg is om mee te trou? Gaan julle die kans om weer ’n goeie man te kry by julle laat verbygaan? Nee, my dogters, dis nie nodig nie. Dis erg genoeg dat ek voel die Here het die rug vir my gedraai. Moenie dit vir my en vir julleself nog swaarder maak nie.” Die twee skoondogters was baie hartseer hieroor. Orpa het toe haar skoonma gegroet en teruggegaan huis toe. Rut het egter haar skoonma styf vasgedruk en geweier om om te draai. Naomi het haar weer probeer oorreed om terug te gaan en vir haar gesê: “Jou skoonsuster is terug na haar eie mense toe waar sy weer haar eie geloof kan uitleef. Doen jy dit ook nou.” Dit is toe dat Rut vir haar sê: “Moenie my vra om om te draai en Ma alleen te los nie, ek sal dit nie doen nie. Ek gaan saam met Ma, waar Ma ook al heen gaan. Daar waar Ma besluit om te bly, sal ek saam met Ma bly. Ma se mense aanvaar ek as my eie mense, en die God wat Ma dien, is ook die God wat ek wil dien. Daar waar Ma eendag doodgaan, wil ek ook doodgaan en daar begrawe word. Mag die Here iets slegs aan my doen as iets anders as die dood ons twee sal skei.” Toe Naomi sien dat Rut vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat om terug te draai. Hulle twee is toe saam Betlehem toe. Toe hulle daar kom, was die dorp in rep en roer en die vroue het verbaas gesê: “Maar dis mos Naomi!”

RUT 1:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sy en haar skoondogters het uit die plek waar sy gebly het, vertrek op pad terug na Juda toe. Naomi sê toe vir haar twee skoondogters: “Moenie verder saam met my gaan nie. Gaan liewer terug na julle ouerhuise toe. Mag die HERE julle beloon vir die liefde wat julle aan my en my seuns betoon het. Mag die HERE weer vir julle elkeen ’n man en ’n huis gee.” Toe sy van hulle afskeid neem, het hulle in trane uitgebars. Die skoondogters sê toe: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u mense toe.” Maar Naomi antwoord: “Gaan tog terug, my dogters. Hoekom sou julle saam met my gaan? Ek kan tog nie meer seuns in die wêreld bring wat kan grootword om julle mans te wees nie. Nee, my dogters, gaan eerder terug na julle ouerhuise toe, want ek is te oud om weer te trou. Selfs al sou dit moontlik wees en ek vanaand by ’n man slaap en geboorte gee aan kinders, sal julle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle tot dan toe ongetroud kan bly? Natuurlik nie, my dogters! Dit is vir my baie swaarder as vir julle, want die HERE het baie swaarkry oor my laat kom.” Die skoondogters het weer begin huil. Orpa het van haar skoonma afskeid geneem, maar Rut wou nie gaan nie. “Kyk,” sê Naomi vir haar, “jou skoonsuster het teruggegaan na haar mense en na haar gode toe. Gaan jy nou ook maar saam met haar terug.” Maar Rut antwoord: “Moenie my probeer oorreed om van Ma af weg te gaan nie. Waarheen u ook al gaan, sal ek gaan. Waar u gaan woon, sal ek ook woon. Ma se mense is ook my mense. U God is ook my God. Waar u doodgaan, sal ek ook doodgaan en daar begrawe word. Mag die HERE dit so laat gebeur. Net die dood sal ons skei.” Naomi het besef dat Rut vas besluit het om saam met haar te gaan. Daarom het sy opgehou om haar te probeer oorreed. Die twee het toe hulle reis voortgesit na Betlehem toe. Toe hulle in Betlehem aankom, was daar ’n opskudding in die dorp oor hulle aankoms. “Is dit dan nie Naomi nie?” het die vroue gevra.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid