SPREUKE 7

7
1 MY seun, onderhou my woorde en bewaar my gebooie by jou;
2 onderhou my gebooie, dan sal jy lewe, en my onderwysing soos jou oogappel;
3 bind hulle aan jou vingers, skryf hulle op die tafel van jou hart.
4Sê aan die wysheid: Jy is my suster! en noem die verstand jou vertroueling,
5 sodat hulle jou kan bewaar vir die vreemde vrou, vir die ontugtige wat met haar woorde vlei.
6Want ek het deur die venster van my huis, deur my tralievenster uitgekyk,
7en ek het onder die eenvoudiges gesien, onder die jongmense 'n verstandelose jongman opgemerk,
8wat op die straat verbygaan naby haar hoek en in die rigting van haar huis stap,
9in die skemer, in die aand van die dag, in die middel van die nag en die donker.
10En kyk, daar kom 'n vrou hom tegemoet, soos 'n hoer aangetrek en listig van hart —
11sy is onrustig en losbandig, haar voete kan nie in haar huis bly nie —
12nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer.
13En sy het hom gegryp en hom gesoen, met 'n onbeskaamde gesig vir hom gesê:
14Ek moes dankoffers bring, vandag het ek my geloftes betaal;
15daarom het ek uitgegaan om jou te ontmoet, om jou aangesig te soek, en ek het jou gekry.
16Ek het my bed met dekens opgemaak, met bont spreie van Egiptiese linne;
17ek het my bed besprinkel met mirre, alewee en kaneel —
18kom, laat ons dronk word van liefde tot die môre toe, laat ons mekaar vrolik maak in welluste.
19Want die man is nie tuis nie, hy het ver weg op reis gegaan,
20die geldbeurs het hy met hom saamgeneem, teen die dag van volmaan sal hy eers tuis kom.
21Sy het hom verlei deur haar baie mooipraatjies, deur die gladheid van haar lippe het sy hom verlok.
22Hy loop skielik agter haar aan soos 'n bees wat na die slagpaal gaan, en soos voetboeie wat dien tot tugtiging van die sot,
23totdat die pyl sy lewer splits; soos 'n voël haastig na die vangnet vlieg — sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is.
24Hoor dan nou na my, seuns, en luister na die woorde van my mond.
25Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie, dwaal nie rond op haar paaie nie.
26Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is.
27 Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood.

Tans Gekies:

SPREUKE 7: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid