HANDELINGE 25

25
Paulus verskyn voor Festus en beroep hom op die keiser.
1FESTUS het dan in die provinsie gekom en ná drie dae van Cesaréa opgegaan na Jerusalem.
2En die hoëpriester en die vernaamstes van die Jode het Paulus by hom aangeklaag
3en by hom aangedring en gevra, as 'n guns teen Paulus, dat hy hom na Jerusalem moes laat haal; terwyl hulle intussen 'n hinderlaag voorberei het om hom op die weg om te bring.
4Maar Festus het geantwoord dat Paulus in Cesaréa bewaak word en dat hy self spoedig daarheen sou reis.
5Laat dan dié onder julle, sê hy, wat bevoeg is, saamgaan, en as daar iets verkeerds in hierdie man is, hom beskuldig.
6En nadat hy nie meer as tien dae onder hulle deurgebring het nie, het hy na Cesaréa afgegaan en die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee dat Paulus voorgebring moes word.
7En toe hy verskyn, het die Jode wat van Jerusalem afgekom het, rondom hom gestaan en baie en swaar beskuldiginge teen Paulus ingebring wat hulle nie kon bewys nie,
8terwyl hy tot sy verdediging gesê het: Ek het niks teen die wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig nie.
9Maar omdat Festus aan die Jode 'n guns wou bewys, het hy geantwoord en vir Paulus gesê: Wil jy na Jerusalem opgaan en daar voor my oor hierdie dinge teregstaan?
10Toe sê Paulus: Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word. Aan die Jode het ek geen onreg gedoen nie, soos u ook baie goed weet.
11Want as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie. Maar as daar niks is in die dinge waarvan hulle my beskuldig nie, dan kan niemand my aan hulle by wyse van guns oorlewer nie. Ek beroep my op die keiser!
12Toe antwoord Festus, nadat hy met die Raad gespreek het: Op die keiser het jy jou beroep — na die keiser sal jy gaan!
Paulus voor Agríppa.
13EN ná verloop van enkele dae het koning Agríppa en Berníce in Cesaréa aangekom om Festus te begroet.
14En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is 'n man deur Felix as gevangene agtergelaat,
15 teen wie die owerpriesters en die ouderlinge van die Jode, toe ek in Jerusalem was, 'n klag ingedien en vonnis teen hom gevra het.
16En ek het hulle geantwoord dat dit nie by die Romeine gewoonte is om enige mens by wyse van guns aan die dood prys te gee voordat die beskuldigde die beskuldigers voor hom gehad het en geleentheid tot verdediging in verband met die beskuldiging gekry het nie.
17Toe hulle dan hier vergader het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee om die man voor te bring.
18Die beskuldigers het teen hom opgetree en geen beskuldiging ingebring van dinge soos ek verwag het nie,
19 maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad en oor 'n sekere Jesus wat dood is, van wie Paulus verklaar het dat Hy lewe.
20En omdat ek met die ondersoek hiervan verleë was, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan en daar oor hierdie dinge teregstaan;
21maar toe Paulus in beroep gegaan het om in bewaring te bly vir die beslissing van die keiser, het ek bevel gegee dat hy in bewaring moes bly totdat ek hom na die keiser kon stuur.
22En Agríppa sê vir Festus: Ek sou self ook graag die man wil hoor. Toe antwoord hy: Môre sal u hom hoor.
23Op die volgende dag het Agríppa en Berníce toe met prag en praal gekom en die gehoorsaal binnegetree saam met die owerstes oor duisend en die aansienlikste manne van die stad; en op bevel van Festus is Paulus voorgebring.
24Toe sê Festus: Koning Agríppa en manne wat almal hier saam met ons is, u sien hierdie man oor wie die hele menigte van die Jode my aangespreek het in Jerusalem en ook hier, en uitgeroep het dat hy nie langer behoort te lewe nie.
25Maar omdat ek gevind het dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie, en hy self ook hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.
26Maar ek kan niks sekers oor hom aan my heer skrywe nie; daarom het ek hom voor u gebring en veral voor u, koning Agríppa, sodat ek ná die ondersoek iets kan skrywe.
27Want dit lyk vir my onredelik om 'n gevangene te stuur en nie die beskuldiginge teen hom aan te dui nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid