HANDELINGE 15

15
Vraag oor die onderhouding van die besnydenis en die wet van Moses. Vergadering in Jerusalem en besluit daaromtrent.
1EN sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie.
2Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog 'n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk.
3En hulle is deur die gemeente uitgelei en het Fenícië en Samaría deurgegaan en vertel van die bekering van die heidene, en aan al die broeders groot blydskap verskaf.
4En by hulle aankoms in Jerusalem is hulle ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouderlinge; en hulle het verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het.
5Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê: Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.
6En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek.
7En toe daar 'n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word.
8En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons.
9En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof.
10Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?
11Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.
12En die hele menigte het geswyg en na Bárnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het.
13En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my!
14 Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om 'n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.
15En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is:
16Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel,
17sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.
18Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.
19Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie,
20maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.
21Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.
22Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochíë te stuur saam met Paulus en Bárnabas, naamlik Judas, met die bynaam van Bársabas, en Silas, manne wat voorgangers onder die broeders was.
23En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië: Groete!
24Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou,
25het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus —
26manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus.
27Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring.
28Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge:
29dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!
30So is hulle dan weggestuur en het in Antiochíë gekom, en hulle het die menigte bymekaargeroep en die brief afgelewer.
31En toe hulle dit gelees het, was hulle bly oor die bemoediging.
32En Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde bemoedig en versterk.
33En nadat hulle 'n tyd daar deurgebring het, het die broeders hulle met vrede na die apostels laat gaan.
34Maar Silas het besluit om daar te bly.
Paulus en Bárnabas skei van mekaar.
35EN Paulus en Bárnabas het in Antiochíë gebly en, saam met nog baie ander, onderrig gegee en die blye boodskap van die woord van die Here verkondig.
36En 'n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê: Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan.
37En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem.
38Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie.
39Daar het toe 'n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil.
Tweede sendingreis van Paulus saam met Silas en Timótheüs.
40MAAR Paulus het Silas gekies en afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was.
41En hy het Sírië en Cilícië deurgegaan en die gemeentes versterk.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid