II KRONIEKE 17

17
Voorspoed en mag van Jósafat.
1EN sy seun Jósafat het in sy plek koning geword en hom versterk teen Israel.
2En hy het 'n leërmag in al die versterkte stede van Juda geplaas en wagposte in die land Juda opgestel en in die stede van Efraim wat sy vader Asa ingeneem het.
3En die Here was met Jósafat, want hy het in die vroeëre weë van sy vader Dawid gewandel en die Baäls nie gesoek nie,
4maar die God van sy vader gesoek en in sy gebooie gewandel en nie gedoen soos Israel nie.
5Daarom het die Here die koningskap in sy hand bevestig; en die hele Juda het aan Jósafat geskenke gegee, sodat hy rykdom en eer in oorvloed gehad het.
6En sy hart het moedig geword in die weë van die Here, en verder het hy die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda verwyder.
7En in die derde jaar van sy regering het hy sy owerstes Ben-Hail en Obádja en Sagaría en Netáneël en Migája gestuur om in die stede van Juda onderrig te gee;
8en saam met hulle die Leviete Semája en Netánja en Sebádja en Ásahel en Semíramot en Jónatan en Adónia en Tobía en Tob-Adónia, die Leviete; en saam met hulle die priesters Elisáma en Joram.
9En hulle het in Juda onderrig gegee met die wetboek van die Here by hulle, en in al die stede van Juda rondgegaan en onder die volk onderrig gegee.
10En 'n skrik vir die Here het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle nie teen Jósafat oorlog gevoer het nie.
11En van die Filistyne het vir Jósafat geskenke en 'n vrag silwer gebring; selfs die Arabiere het vir hom kleinvee gebring: seweduisend-sewehonderd ramme en seweduisend-sewehonderd bokke.
12So het Jósafat dan aldeur groter geword, buitengewoon groot, en in Juda forte en voorraadstede gebou.
13En hy het groot voorrade in die stede van Juda gehad, en krygsmanne, dapper helde, in Jerusalem.
14En dit was hulle getal volgens hulle families: Van Juda was owerstes oor duisend: die owerste Adna en saam met hom driehonderdduisend dapper helde;
15en naas hom was die owerste Jóhanan en saam met hom tweehonderd-en-tagtigduisend;
16en naas hom was Amásia, die seun van Sigri, wat hom gewillig getoon het vir die Here, en saam met hom tweehonderdduisend dapper helde;
17en uit Benjamin was Éljada, 'n dapper held, en saam met hom tweehonderdduisend, gewapen met boog en skild;
18en naas hom was Jósabad en saam met hom honderd-en-tagtigduisend, vir kommando gewapen.
19Hulle was in die diens van die koning, behalwe die wat die koning in die versterkte stede deur die hele Juda geplaas het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid