I THESSALONICENSE 2

2
Hoe Paulus sy bediening onder die Thessalonicense uitgeoefen het.
1JULLE weet tog self, broeders, dat ons ingang by julle nie tevergeefs was nie;
2maar alhoewel ons vantevore, soos julle weet, in Filíppi gely het en mishandel is, het ons in onse God vrymoedigheid gehad om aan julle die evangelie van God te verkondig onder veel stryd.
3Want ons vermaning was nie uit dwaling of uit onsuiwerheid of uit bedrog nie;
4maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.
5Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie.
6Ook het ons nie eer van mense, òf van julle òf van ander gesoek nie, al kon ons as apostels van Christus met gesag optree.
7Maar ons was vriendelik onder julle soos 'n pleegmoeder haar kinders koester.
8Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het.
9Julle onthou tog, broeders, ons arbeid en inspanning; want terwyl ons nag en dag gewerk het om niemand van julle te beswaar nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig.
10Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo,
11hoe ons, soos julle weet, net soos 'n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het
12en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep.
13Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.
14Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judéa, omdat julle ook dieselfde dinge gely het van julle eie stamgenote net soos hulle van die Jode,
15wat ook die Here Jesus en hulle eie profete gedood en ons vervolg het en God nie behaag nie en teen alle mense gekant is,
16deurdat hulle ons verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word, sodat hulle die maat van hulle sondes gedurig vol kan maak. Maar die toorn het oor hulle gekom tot die einde toe.
Begeerte van Paulus om die Thessalonicense weer te sien. Sy blydskap en wense toe Timótheüs hom die berigte gebring het.
17MAAR nadat ons, broeders, 'n kort tydjie van julle geskeie was — in persoon, nie met die hart nie — het ons met groot verlange ons des te meer beywer om julle aangesig te sien.
18Daarom wou ons na julle toe kom, ek Paulus, meer as een maal; maar die Satan het ons verhinder.
19Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?
20Want julle is ons eer en blydskap.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid