Hoshea 2
2
1Sê vir julle broers: “`Ammi (My volk),” en vir julle susters: “Rugamah (Jammer gekry).”
2Twis met julle moeder, twis, want sy is nie My vrou nie en Ek is nie haar Man nie en laat sy haar hoerery van haar gesig verwyder en haar owerspel van tussen haar borste af,
3anders sal Ek haar kaal afstroop en haar blootstel soos op die dag van haar geboorte. Ek sal haar ook maak soos ’n wildernis, soos ’n woestyn en haar van dors laat sterf.
4Ek sal ook geen liefdevolle omgee vir haar kinders hê nie, want hulle is kinders van hoerery,
5want hulle moeder het die hoer gespeel; sy wat met hulle bevrug was, het skandelik opgetree, want sy het gesê: ‘Ek sal agter my minnaars aangaan, wat vir my brood en my water gee; my wol en my vlas, my olie en my drank;’ Yeg 16:19
6daarom, let op, Ek sal haar pad met dorings toemaak en ’n muur teen haar bou sodat sy nie haar pad kan vind nie.
7Sy sal agter haar minnaars aanloop, maar hulle nie inhaal nie en sy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie, dan sal sy sê: ‘Ek sal na my eerste man toe teruggaan, want dit was toe vir my beter as nou,’ Deut 24:1-4
8want sy weet nie dat dit Ek is wat aan haar die koring, die mos en die olie gegee het en haar oorlaai het met silwer en goud, wat hulle vir Ba’al gebruik het, nie;
9daarom sal Ek My koring terugvat met oestyd en My nuwe wyn in sy seisoen. Ek sal ook My wol en My vlas wegvat wat haar naaktheid bedek,
10dan sal Ek haar onsedelikheid ontbloot voor die oë van haar minnaars en niemand sal haar uit My hand red nie.
11Ek sal ook ’n einde maak aan al haar vrolikheid, haar feeste, haar Nuwemane, haar Shabbatte en al haar feestelike byeenkomste.
12Ek sal haar wingerde en haar vyebome vernietig, waarvan sy gesê het: ‘Hierdie is my loon wat my minnaars my gegee het’ en Ek sal dit tot ’n woud maak en die wilde diere van die veld sal dit opeet.
13Ek sal haar straf vir die dae van die Ba’als, toe sy offers aan hulle geoffer het en haar met haar oorringe en juweliersware versier en agter haar minnaars aangeloop het sodat sy My vergeet het,” verklaar יהוה.
14“Let daarom op, Ek sal haar lok, haar in die woestyn inbring en sagkens met haar praat,
15dan sal Ek haar wingerde daarvandaan gee en die vallei van Akhor as ’n deur van versekerde verwagting en sy sal daar sing soos in die dae van haar jeug, soos op die dag toe sy uit die land van Mitzrayim opgekom het.
16In daardie dag sal dit wees,” verklaar יהוה, “dat jy My, Ishi (my Man), sal noem, en My nie langer Ba’ali, (my Meester), noem nie,
17want Ek sal die name van die Ba’als uit haar mond verwyder sodat hulle nie meer by hul naam genoem sal word nie.
18Op daardie dag sal Ek ook vir hulle ’n verbond met die wilde diere van die veld, met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde maak en Ek sal die boog, swaard en oorlog ophef uit die land en hulle in veiligheid laat neerlê.
19Ek sal jou vir ewig aan My verloof; ja, Ek sal jou aan My verloof in onpartydige opregtheid en in regverdige oordeel, in liefdevolle goedheid en in omgee
20en Ek sal jou aan My verloof in vertrouenswaardigheid; dan sal jy יהוה ken.
21Dit sal wees in daardie dag dat Ek sal antwoord,” verklaar יהוה. “Ek sal die hemele antwoord en hulle sal die aarde antwoord.
22Die aarde sal antwoord op die koring, die nuwe wyn en die olie en hulle sal Yizre’el antwoord.
23Ek sal haar vir Myself in die land saai. Ek sal ook liefdevolle omgee gee aan haar wat nie liefdevolle omgee ontvang het nie en aan die wat nie My volk is nie, sê: ‘Jy is My volk’ en hulle sal sê: ‘My God!’” 1 Kefa 2:10; Rom 9:25
Tans Gekies:
Hoshea 2: SPC
Kleurmerk
Kopieer
Vergelyk
Deel
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.