Eksodus 18

18
1Yitro, die nie-Levitiese priester van Midyan, Mosheh se skoonvader, het alles gehoor wat God vir Mosheh en vir Sy volk Yisra’el gedoen het; hoe יהוה Yisra’el uit Mitzrayim uitgebring het.
2Yitro, Mosheh se skoonvader, het Tzipporah, die vrou van Mosheh (nadat hy haar teruggestuur het)
3en haar twee seuns, gevat. Die naam van die een was Gershom, want hy het gesê: ‘Ek was ’n besoeker in ’n vreemde land;’ 1 Kro 23:15-17; 24:20,21; Hand 7:29
4en die naam van die ander was Eli’ezer, want, het hy gesê, ‘die God van my vader is my Hulp en het my van Farao se swaard bevry.’
5Yitro, Mosheh se skoonvader, het met sy seuns en sy vrou na Mosheh gekom in die wildernis waar hy by die berg van God kamp opgeslaan het.
6Hy het Mosheh laat weet: “Ek, jou skoonvader Yitro, kom na jou toe met jou vrou en haar twee seuns saam met haar.”
7Mosheh het uitgegaan, sy skoonvader tegemoet en hy het neergebuig en hom gesoen en hulle het na mekaar se welstand gevra en in die tent ingegaan.
8Mosheh het sy skoonvader alles vertel wat יהוה aan Farao en aan die Mitzrayimiete, ter wille van Yisra’el, gedoen het; al die moeilikheid wat hulle op die pad teëgekom het en hoe יהוה hulle verlos het.
9Yitro het hom verheug oor al die goedheid wat יהוה aan Yisra’el gedoen het, wat Hy uit die hand van die Mitzrayimiete bevry het.
10Yitro het gesê: “Geseënd is יהוה wat julle bevry het uit die hand van die Mitzrayimiete en uit die hand van Farao, wat die volk van onder die heerskappy van die Mitzrayimiete uit bevry het.
11Nou weet ek dat יהוה groter is as al die gode, want in die presiese dinge waarin hulle trots opgetree het, is dit bewys.”
12Yitro, Mosheh se skoonvader, het ’n brandoffer en slagoffers gebring tot eer van God en Aharon en al die oudstes van Yisra’el het gekom om saam met Mosheh se skoonvader ’n maaltyd te eet voor die Teenwoordigheid van God.
13So was dit dat Mosheh die volgende dag gesit het om te oordeel vir die volk en die volk het voor Mosheh gestaan van die oggend af tot die aand toe.
14Toe Mosheh se skoonvader alles sien wat hy vir die volk doen, sê hy: “Wat is dit wat jy vir die volk doen? Waarom sit jy alleen as regter en die hele volk staan voor jou van die oggend af tot die aand toe?”
15Mosheh antwoord sy skoonvader: “Omdat die volk na my toe kom om God te raadpleeg.
16As hulle ’n saak het, kom dit na my toe en ek oordeel tussen ’n man en sy naaste en maak die voorskrifte en wette van God bekend.”
17Mosheh se skoonvader sê vir hom: “Die ding wat jy doen, is nie goed nie.
18Beide jy en die mense wat saam met jou is, sal heeltemal uitgeput raak, want die saak is ’n te groot las vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie.
19Luister nou na my stem; ek sal jou raad gee en God sal met jou wees. Wees voor God vir die volk ’n verteenwoordiger en bring jy hulle sake voor God,
20leer hulle dan die voorskrifte en wette en maak hulle die pad bekend waarop hulle moet loop en die werk wat hulle moet doen. Gen 1:26,28; Deut 5:31-33; Yog 14:5,6,10; Efe 2:10; 4:12
21Meer nog jy moet uit die hele volk bekwame manne kies wat God respekvol vrees, manne van waarheid wat onregverdige wins haat en dié aanstel oor hulle as heersers oor ’n duisend, heersers oor ’n honderd, heersers oor vyftig en heersers oor tien
22en hulle voortdurend oor die volk laat oordeel. Dit sal dan wees dat hulle al die groot sake na jou toe moet bring, maar in al die klein sake moet hulle self oordeel. Dit sal so makliker wees vir jou en hulle sal saam met jou die las dra.
23As jy dit doen en God dit so beveel, Num 11:16,17 dan sal jy kan uithou en sal ook al hierdie mense in vrede na hulle blyplek kan gaan.”
24Mosheh het geluister na sy skoonvader en alles gedoen wat hy gesê het.
25Mosheh het bekwame manne uit die hele Yisra’el gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel: heersers oor ’n duisend, oor ’n honderd, oor vyftig en oor tien.
26Hulle het voortdurend oor die volk geoordeel: die moeilike sake het hulle na Mosheh gebring, maar in al die klein sake self geoordeel.
27Mosheh het sy skoonvader gegroet en hy het na sy land toe gegaan.

Tans Gekies:

Eksodus 18: SPC

Kleurmerk

Deel

Vergelyk

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan