Eksodus 16

16
1Hulle het van Eilim af weggetrek en die hele vergadering van die seuns van Yisra’el het in die wildernis van Sien gekom, wat tussen Eilim en Sinai lê, op die vyftiende dag van die tweede maand nadat hulle uitgetrek het uit die land van Mitzrayim.
2Die hele vergadering van die seuns van Yisra’el het in die wildernis teen Mosheh en Aharon gebrom.
3Die seuns van Yisra’el het vir hulle gesê: “Het ons maar in Mitzrayim deur die hand van יהוה gesterf toe ons by die vleispotte gesit en brood geëet het tot versadiging toe, want julle het ons in hierdie wildernis uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat doodgaan.”
4יהוה sê vir Mosheh: “Let op, Ek sal vir julle brood uit die hemele laat reën; dan moet die volk uitgaan en dag vir dag bymekaarmaak sodat Ek hulle kan toets, of hulle volgens My instruksies (Torah) sal loop of nie. Num 11:7,8; Ps l05:40; Yog 6:32
5Dit sal wees dat op die sesde dag, as hulle voorberei wat hulle inbring, dit dubbel soveel sal wees as wat hulle daagliks bymekaarmaak.”
6Mosheh en Aharon sê vir al die seuns van Yisra’el: “Teen sonsondergang sal julle weet dat יהוה julle uit die land van Mitzrayim uitgelei het
7en in die oggend sal julle die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה sien omdat Hy julle gebrom teen יהוה gehoor het, want wat is ons dat julle teen ons kla?”
8Mosheh het gesê: “Wanneer יהוה julle vleis gee om te eet teen sonsondergang en in die oggend brood tot vervullens toe, dan het יהוה julle gebrom gehoor wat julle teen Hom kla, want wat is ons? Julle gebrom is nie teen ons nie, maar teen יהוה.”
9Mosheh het met Aharon gepraat: “Sê vir die hele vergadering van die seuns van Yisra’el: Kom nader voor יהוה, want Hy het julle klagtes gehoor.”
10Terwyl Aharon met die hele vergadering van die kinders van Yisra’el praat, draai hulle na die wildernis toe en let op, die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה verskyn in die wolk.
11יהוה het met Mosheh gepraat en gesê:
12“Ek het die klagtes van die seuns van Yisra’el gehoor; praat met hulle en sê: In die aand sal julle vleis eet en in die oggend met brood versadig word en julle sal weet dat Ek יהוה, julle God, is.”
13So het dit gebeur dat teen sonsondergang daar kwartels opgekom en die kamp toegedek het en in die oggend was daar ’n laag dou rondom die kamp.
14Nadat die laag dou opgetrek het, het daar oor die wildernis iets gelê wat fyn en korrelrig was, so fyn soos ryp op die grond.
15Toe die seuns van Yisra’el dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit? (Man hu?)” Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Mosheh sê vir hulle: “Dit is die brood wat יהוה vir julle gee as kos. Num 11:7,8; Ps l05:40; Yog 6:32
16Dit is wat יהוה beveel het: ‘Laat elke man kos bymekaarmaak vir elke mond, ’n `omer vir elke kop, laat elkeen vat volgens die mense in sy tent’.”
17Die seuns van Yisra’el het so gedoen: hulle het bymekaargemaak, sommige meer, ander minder,
18maar toe hulle dit met die `omer meet, het hy wat baie bymekaargemaak het, niks oorgehad nie en hy wat min bymekaargemaak het, nie te min gehad nie. 2 Kor 8:15 Elkeen na sy behoefte het hulle bymekaargemaak.
19Mosheh het vir hulle gesê: “Niemand moet daarvan laat oorbly tot die oggend toe nie.”
20Nogtans het hulle nie na Mosheh geluister nie: sommige het daarvan laat oorbly tot die oggend toe en daar het wurms ingekom en dit het gestink. Mosheh was woedend vir hulle.
21Hulle het dit oggend na oggend bymekaargemaak, elkeen na sy behoefte en wanneer die son warm word, smelt dit weg.
22Op die sesde dag het hulle twee maal soveel brood bymekaargemaak, twee `omers vir elkeen en al die owerstes van die vergadering het gekom en aan Mosheh gerapporteer
23en hy sê vir hulle: “Dit is wat יהוה gesê het: Môre is dit ’n rusdag, ’n afgesonderde Shabbat tot יהוה. Wat julle wil bak, bak dit en wat julle wil kook, kook dit en bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die oggend toe.” Eks 12:16; 35:3
24Hulle het dit gebêre tot die oggend toe, soos Mosheh beveel het en dit het nie gestink nie en daar was ook nie wurms in nie.
25Mosheh sê: “Eet dit vandag, want dit is vandag ’n Shabbat tot יהוה. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie.
26Ses dae lank moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag is dit Shabbat, dan sal dit nie daar wees nie.”
27Dit het gebeur dat sommige mense op die sewende dag uitgegaan het om bymekaar te maak, maar hulle het niks gekry nie.
28יהוה sê vir Mosheh: “Hoe lank weier julle om My opdragte en My wette uit te voer?
29Gee aandag: aangesien יהוה vir julle die Shabbat gegee het, gee Hy vir julle op die sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen in sy plek bly; laat niemand op die sewende dag van sy blyplek af weggaan nie.”
30So het die volk op die sewende dag gerus.
31Die huis van Yisra’el het dit ‘man hu’ genoem en dit was wit soos koljandersaad en dit het gesmaak soos wafelkoek met heuning gemaak.
32Toe sê Mosheh: “Dit is wat יהוה beveel het: ’n `omer vol moet daarvan bewaar word vir julle geslagte sodat hulle die brood kan sien wat Ek julle in die wildernis laat eet het, toe Ek julle uit die land van Mitzrayim uitgelei het.”
33Mosheh sê vir Aharon: “Vat ’n pot en gooi ’n `omer vol ‘man hu’ daarin en sit dit voor יהוה neer, om dit vir julle geslagte te bewaar.”
34Soos יהוה Mosheh beveel het, so het Aharon dit voor die Getuienis neergesit om bewaar te word.
35Die seuns van Yisra’el het die ‘man hu’ veertig jaar lank geëet totdat hulle in ’n bewoonde land gekom het. Hulle het ‘man hu’ geëet totdat hulle by die grens van die land Kena’an gekom het.
36’n `Omer is die tiende van ’n efa.

Tans Gekies:

Eksodus 16: SPC

Kleurmerk

Deel

Vergelyk

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan