Eksodus 14

14
1יהוה het met Mosheh gepraat en gesê:
2“Sê aan die seuns van Yisra’el dat hulle moet terugdraai en kamp opslaan voor Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see, oorkant Ba’al-Tz’fon, moet julle kamp opslaan by die see.
3Dan sal Farao van die seuns van Yisra’el sê: “Hulle is deurmekaar in die land, die wildernis het hulle vasgekeer.”
4Ek sal Farao se wil, emosie en verstand onveranderlik maak sodat hy hulle agtervolg en Ek sal Myself oor Farao en sy hele leërmag grootmaak en die Mitzrayimiete sal weet dat Ek יהוה is.” Hulle het so gedoen.
5Dit is aan die koning van Mitzrayim vertel dat die volk gevlug het en die wil, emosie en denke van Farao en van sy diensknegte het teenoor die volk verander en hulle sê: “Hoekom het ons dit gedoen en Yisra’el laat trek sodat hulle ons nie meer dien nie?”
6Hy het sy strydwa gereed gemaak en sy mense saam met hom gevat.
7Hy het ses honderd uitgesoekte strydwaens en al die strydwaens van Mitzrayim, met gekose kapteins oor elkeen van hulle, gevat.
8יהוה het die wil, emosie en verstand van Farao, die koning van Mitzrayim, onveranderlik gemaak sodat hy die seuns van Yisra’el agtervolg het en die kinders van Yisra’el het deur ’n hoë Hand uitgetrek.
9Die Mitzrayimiete het hulle agtervolg; al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag en hulle ingehaal terwyl hulle gekamp het by die see langs Pi-Hagirot, voor Ba’al-Tz’fon.
10Toe Farao naby kom, slaan die seuns van Yisra’el hulle oë op en, let op, die Mitzrayimiete trek agter hulle aan. Hulle het baie bang geword en die kinders van Yisra’el het uitgeroep tot יהוה.
11Hulle het vir Mosheh gesê: “Omdat daar in Mitzrayim geen grafte is nie, het u ons saamgevat om in die wildernis dood te gaan? Hoekom het u so met ons gemaak en ons uit Mitzrayim uitgebring?
12Is dít nie die woord wat ons vir u in Mitzrayim gesê het nie: ‘Laat ons met rus dat ons die Mitzrayimiete kan dien,’ want dit sou beter vir ons wees om die Mitzrayimiete te dien as om in die wildernis te sterf?”
13Mosheh het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie, staan vas en sien die verlossing van יהוה wat Hy vandag vir julle sal bereik, want die Mitzrayimiete wat julle vandag sien, sal julle in ewigheid nie weer sien nie.
14יהוה sal vir julle baklei en julle moet stil wees.”
15Toe vra יהוה vir Mosheh: “Wat roep jy na My? Sê vir die seuns van Yisra’el dat hulle vorentoe moet gaan
16en jy, lig op jou staf en steek jou hand uit oor die see en verdeel dit en die seuns van Yisra’el sal dwarsdeur die see op droë grond trek.
17Let op, Ek sal die wil, emosie en verstand van die Mitzrayimiete onveranderlik maak en hulle sal agter hulle aan gaan. Ek sal groot gemaak word oor Farao en sy hele leërmag, oor sy strydwaens en sy ruiters
18en die Mitzrayimiete sal weet dat Ek יהוה is, as Ek groot gemaak word oor Farao, oor sy strydwaens en sy ruiters.”
19Die boodskapper van God wat voor die leër van Yisra’el uitgetrek het, het weggegaan en agter hulle aan getrek en die wolkkolom het van vóór hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;
20so het dit dan tussen die leër van die Mitzrayimiete en die leër van Yisra’el ingekom. Dit was ’n wolk met duisternis vir die een en dit het die nag verlig sodat die een vir die hele nag nie naby die ander kon kom nie.
21Mosheh het sy hand uitgesteek oor die see en יהוה het deur ’n sterk oostewind die hele nag deur die see laat teruggaan, die see droog gemaak en die waters verdeel.
22Die seuns van Yisra’el het op droë grond deur die see getrek. Die waters was vir hulle ’n muur aan hul regter- en aan hul linkerkant.
23Die Mitzrayimiete het hulle agternagesit en hulle gevolg na die middel van die see; al Farao se perde, sy strydwaens en sy ruiters.
24Dit het gebeur tydens die oggendwag dat יהוה, in die vuur- en wolkkolom, op die leër van die Mitzrayimiete afgekyk het en die leër van die Mitzrayimiete deurmekaar gemaak het.
25Hy het die wiele van hulle strydwaens laat afval en hulle met moeite laat voortgaan. Toe sê die Mitzrayimiete: “Laat ons van Yisra’el af wegvlug, want יהוה baklei vir hulle teen die Mitzrayimiete.”
26יהוה sê vir Mosheh: “Steek jou hand uit oor die see dat die waters kan terugkom oor die Mitzrayimiete, oor hulle strydwaens en hulle ruiters.
27Mosheh het sy hand oor die see uitgesteek en die see het teen dagbreek teruggekeer na normaal terwyl die Mitzrayimiete binne-in dit gevlug het. יהוה het die Mitzrayimiete binne-in die see omvergegooi.
28Die waters het teruggevloei en die strydwaens en die ruiters van Farao se hele leërmag wat agter hulle die see ingetrek het, toegemaak. Geeneen van hulle het oorgebly nie,
29maar die seuns van Yisra’el het op droë grond deur die see getrek en die waters was vir hulle ’n muur aan hul regter- en aan hul linkerkant.
30So het יהוה Yisra’el dan dié dag uit die hand van die Mitzrayimiete gered en Yisra’el het die Mitzrayimiete dood gesien aan die kant van die see.
31Yisra’el het die groot hand gesien wat יהוה teen die Mitzrayimiete gebring het en die volk het יהוה respekvol gevrees en vertrou in יהוה en in Mosheh, Sy dienskneg.

Tans Gekies:

Eksodus 14: SPC

Kleurmerk

Deel

Vergelyk

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan