Eksodus 10
10
1יהוה het vir Mosheh gesê: “Gaan na Farao toe, want Ék het sy wil, emosie en verstand, asook die wil, emosie en verstand van sy diensknegte verhard sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan uitvoer
2en sodat jy voor die ore van jou seun en jou kleinseun kan vertel hoe Ek ’n bespotting van die Mitzrayimiete gemaak het en van My tekens wat Ek onder hulle gebring het sodat julle kan weet dat Ek יהוה is.”
3Mosheh en Aharon het na Farao toe gegaan en vir hom gesê: “So sê יהוה, die God van die Hebreërs: ‘Hoe lank sal jy weier om jou voor My te verneder? Laat My volk gaan dat hulle My kan dien,
4of anders, as jy weier om My volk te laat gaan, let op, môre sal Ek sprinkane in jou gebied inbring
5en hulle sal die oppervlakte van die grond bedek sodat niemand die land sal kan sien nie en hulle sal die res van wat oorgebly het, wat vir julle van die hael oorgebly het en al die bome wat vir julle in die veld opgroei, opeet.
6Jou huise, die huise van al jou diensknegte en die huise van al die Mitzrayimiete sal vol van hulle wees; soos jou vaders en die vaders van jou vaders nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde is, tot vandag toe nie.’” Hy het omgedraai en van Farao af weggegaan.
7Farao se diensknegte vra vir hom: “Hoe lank sal die man vir ons ’n strik wees? Laat die manne gaan dat hulle יהוה, hulle God, kan dien. Weet u nog nie dat Mitzrayim vernietig is nie?”
8Mosheh en Aharon is teruggebring na Farao toe en hy sê vir hulle: “Gaan, dien יהוה, julle God. Wie is dit wat gaan?
9Mosheh antwoord: “Ons sal gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste sal ons gaan, want ons moet ’n fees hou vir יהוה.”
10Hy sê vir hulle: “יהוה is met julle as ek ooit julle en julle kinders sal laat gaan! Let op, want die bose is in julle gedagtes.
11Nie so nie! Gaan nou, julle manne en dien יהוה, want dít is wat julle begeer het.” Hulle is uit Farao se teenwoordigheid uitgedryf.
12יהוה sê vir Mosheh: “Steek jou hand uit oor die land van Mitzrayim vir die sprinkane sodat hulle kan opkom oor die land van Mitzrayim en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het.”
13Mosheh het sy staf oor die land van Mitzrayim uitgesteek en יהוה het ’n oostewind in die land gebring, daardie hele dag en die hele nag; toe dit oggend word, het die oostewind die sprinkane gebring.
14Die sprinkane het opgekom oor die hele land van Mitzrayim en op die hele gebied van Mitzrayim gaan sit; uitermatige hoeveelhede. Daar was voor dit nie so ’n sprinkaanswerm nie en daarna sou daar ook nie so iets wees nie.
15Hulle het die oppervlakte van die hele land bedek sodat die land donker was en hulle het al die plante van die land en al die vrugte van die bome, wat die hael laat oorbly het, opgeëet; daar het geen groenigheid aan die bome of plante van die veld in die hele land van Mitzrayim oorgebly nie.
16Farao het haastig vir Mosheh en Aharon laat roep en gesê: “Ek het gesondig teen יהוה, julle God en teen julle;
17daarom, vergeef nou asseblief net dié keer my sonde en tree in by יהוה, julle God sodat Hy net hierdie dood van my af wegvat.”
18Hy het van Farao af weggegaan en ingetree by יהוה.
19יהוה het die wind omgeswaai in ’n baie sterk westewind, wat die sprinkane weggevat en hulle in die Rooisee gedryf het. Daar het nie een sprinkaan in die hele gebied van Mitzrayim oorgebly nie.
20יהוה het Farao se wil, emosie en verstand onveranderlik gemaak en hy het die seuns van Yisra’el nie laat gaan nie.
21יהוה het vir Mosheh gesê: “Steek jou hand uit na die hemele toe en daar sal duisternis oor die land van Mitzrayim kom; duisternis wat ’n mens selfs kan voel.”
22Mosheh het sy hand uitgesteek na die hemele en daar was ’n dik duisternis oor die hele land van Mitzrayim vir drie dae lank.
23Hulle het mekaar nie gesien nie en niemand het van sy plek af opgestaan vir drie dae nie, maar al die kinders van Yisra’el het lig in hulle huise gehad.
24Farao het Mosheh laat roep en gesê: “Gaan heen, dien יהוה; net julle kleinvee en julle beeste moet agtergehou word. Selfs julle kinders kan met julle saamgaan.”
25Mosheh antwoord: “U moet ons tog offers en brandoffers saam gee dat ons offerandes aan יהוה, ons God, kan bring;
26daarom sal ons lewende hawe ook saam met ons gaan: daar mag geen klou agterbly nie, want ons moet daarvan vat om יהוה, ons God, te dien en ons weet nie waarmee ons יהוה, ons God, moet dien voordat ons daar kom nie.”
27יהוה het Farao se wil, emosie en verstand onveranderlik gemaak en hy wou hulle nie laat gaan nie.
28Farao sê vir hom: “Gaan weg van my af! Pas op, jy sal my gesig nie weer sien nie, want die dag waarop jy my gesig sien, sal jy sterf.”
29Mosheh antwoord: “U het reg gepraat. Ek sal u gesig nie weer sien nie.”
Tans Gekies:
Eksodus 10: SPC
Kleurmerk
Deel
Vergelyk
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.