1 Yoganan 2
2
1Kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sondig nie en as iemand sondig, is daar vir ons by die Vader die Loskoper vanuit die vloek, Yeshua, Die Gesalfde Een, die Onskuldige, 1 Kefa 3:18
2want Hy is die Vryspraak en Toedekking vir ons sondes en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. 1 Yog 4:10; Rom 3:25
3Hieraan weet ons dat ons Hom ken, as ons Sy opdragte uitvoer. Eks 19:5
4Hy wat sê: ‘Ek ken Hom’ en Sy opdragte nie uitvoer nie, is ’n leuenaar en die waarheid is nie in hom nie, 1 Yog 3:4; 1 Kor 8:3
5maar wie ook al Sy woorde voortdurend uitvoer, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, want hieraan weet ons dat ons in Hom is: Yog 14:23,24
6hy wat sê dat hy voortdurend in Hom bly, vir hom is dit nodig om so te leef soos wat Hy geleef het. 1 Kefa 2:21
7Julle vir wie ons lief is, dit is geen nuwe opdrag wat ek aan julle skryf nie, maar ’n ou opdrag, wat julle van die aanvang af gehad het. Efe 2:10 Die ou opdrag is die boodskap wat julle gehoor het
8en tog skryf ek aan julle ’n nuwe opdrag, wat waar is in Hom en in julle: dat die duisternis verby is en die waaragtige Lig begin skyn. Yog 12:35,36,46
9Wie daarom ook al sê dat hy in die Lig is terwyl hy sy broer haat, is steeds in die duisternis. Lev 19:17
10Wie sy broer voortdurend lief het, bly in die Lig en daar is geen oortreding in hom nie,
11maar hy wat sy broer haat, is in die duisternis en leef in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie omdat die duisternis sy oë blind gemaak het.
12Kinders, ek skryf vir julle, wie se sondes vergewe is deur die toedoen van Sy Karakter en Outoriteit (Naam).
13Vaders, ek skryf vir julle omdat julle Hom ken wat van die aanvang af is. Jongmanne, ek skryf vir julle omdat julle hom, die bose een, oorwin het. Seuns, ek het vir julle geskryf omdat julle die Vader ken.
14Vaders, ek het aan julle geskryf omdat julle Hom ken wat van die aanvang af is. Jongmanne, ek het aan julle geskryf omdat julle sterk is en die boodskap van God in julle bly en julle die bose een oorwin het.
15Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld lief het, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie,
16want alles wat van die wêreld is, die begeertes van die vleeslike liggaam, die smagtinge van die oë en die arrogansie van die tydelike lewe, is nie uit die Vader nie, maar is vanuit die wêreld.
17Die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar hy wat die wil van God doen, leef voort tot in ewigheid.
18My kinders, dit is die laaste van tyd en soos julle gehoor het, kom die vals gesalfde en daar is nou reeds baie vals gesalfdes, waardeur ons weet dat dit die laaste van tyd is.
19Hulle het van ons af uitgegaan, maar hulle was nie deel van ons nie, want as hulle deel van ons was, sou hulle by ons gebly het, maar hulle het van ons af uitgegaan om te wys dat hulle nie van ons was nie.
20Daar is ’n salwing vir julle van HaKadosh (die Afgesonderde Een) en julle moet elke persoon onderskei.
21Ek het nie aan julle geskryf omdat julle nie die waarheid ken nie, maar omdat julle dit ken en omdat geen leuen vanuit die waarheid is nie.
22Wie is die leuenaar anders, as hy wat ontken dat Yeshua Die Gesalfde Een is? Dit is die vals gesalfdes: hy wat die Vader ontken, ontken ook die Seun. Yog 8:55
23Elkeen wat die Seun ontken, vertrou ook nie in die Vader nie. Wie ook al die Seun bely, bely ook die Vader. Yog 20:28; 2 Yog 1:7,9,10
24Wat julle van die begin af gehoor het, laat dit in julle bly. As dit wat julle van die begin af gehoor het in julle bly, dán sal julle ook in die Seun en in die Vader bly.
25Dit is die belofte wat Hy aan ons gemaak het, naamlik die ewige lewe.
26Hierdie dinge het ek aan julle geskryf aangaande diegene wat julle verlei.
27Ook vir julle: dat as julle bly in die Salwing wat julle van Hom ontvang het, julle niemand nodig het om julle te leer nie, maar soos die Salwing wat van God is julle aangaande alles leer en waar is en daar geen leuen in Hom is nie en soos Hy julle geleer het, so moet julle in Hom bly. Yir 31:34; Yog 14:26; Efe 1:23-2:1; 3:17-19
28Bly nou in Hom, my kinders sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie skaam van Hom af wegdraai by Sy koms nie. Gen 3:9-11
29As julle weet dat Hy onpartydig opreg is, dan weet julle dat elkeen wat onpartydig opreg leef, vanuit Hom is.
Tans Gekies:
1 Yoganan 2: PWL
Kleurmerk
Kopieer
Vergelyk
Deel
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.