Amos 9:11-15
Amos 9:11-15 CAB23
In dié dag sal Ek die vervalle tabernakel van Dawid oprig en sy skeure toemaak; en Ek sal sy puinhope oprig en dit bou soos in die dae van ouds. Sodat hulle die oorblyfsel van Edom en van al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, in besit kan neem, spreek die HERE wat dit doen. Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat die ploegman die maaier sal inhaal en die druiwetrapper die saadsaaier; en die berge sal soet wyn drup, en al die heuwels sal smelt. En Ek sal die ballingskap van my volk Israel terugbring, en hulle sal die puinhope stede bou en hulle bewoon; en hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink; hulle sal ook tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. En Ek sal hulle in hulle land plant, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hulle land wat Ek hulle gegee het nie, spreek die HERE jou God.

