Amos 9:11-15

Amos 9:11-15 AFR20

“ Op daardie dag sal Ek die vervalle skuiling van Dawid herstel. Ek sal die bresse toebou en die ruïnes herbou om te wees soos in die dae van weleer, sodat hulle dié wat oorgebly het van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, in besit kan neem,” is die uitspraak van die HERE, wat dit gaan doen. “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die HERE, “wanneer die een wat ploeg die een wat graan oes, sal inhaal, en die een wat druiwe trap die een wat die saadsak dra. Die berge sal drup van druiwesap en die heuwels sal golf van graan. Ek sal die lot van my volk Israel verander. Hulle sal hulle verwoeste stede herbou en bewoon; hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink; hulle sal tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. Ek sal hulle plant in hulle grond en hulle sal nie weer verwyder word van die grond wat Ek aan hulle gegee het nie,” sê die HERE, jou God.