AMOS 9:11-15
AMOS 9:11-15 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het gesê: “Daar sal 'n tyd kom wanneer Ek die nageslag van koning Dawid weer sal laat regeer. Hulle is soos 'n huis wat omgeval het, 'n muur wat afgebreek is. Maar Ek sal die huis weer bou, en hy sal weer wees soos hy altyd was. My volk sal die Edomiete oorwin wat nog oorgebly het, en ook die ander volke wat aan My behoort.” Dit sê die Here. Die Here sal dit doen. Die Here het gesê: “Daar sal 'n tyd kom wanneer die Israeliete hulle koring moet afsny dadelik nadat hulle geploeg het. Hulle sal wyn moet maak dadelik nadat hulle die wingerde geplant het. Die wyn sal so baie wees dat dit teen die berge en die heuwels sal afloop. Ek sal dit weer goed laat gaan met my volk, die Israeliete. Ek sal die stede wat die vyande afgebreek het, weer bou sodat die Israeliete daar kan woon. Hulle sal wingerde plant en die wyn drink. Hulle sal tuine maak en die vrugte eet. Ek sal hulle help, en hulle sal in hulle eie land woon. Niemand sal hulle wegvat uit die land wat Ek vir hulle gegee het nie.”
AMOS 9:11-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd; sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die HERE wat dit doen. Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die HERE jou God.
AMOS 9:11-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daardie dag bou Ek die vervalle hut van Dawid weer op; Ek stop sy barste toe en bou sy murasies op, Ek herbou hom soos hy in die ou tyd was, sodat my volk die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is, oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, sê die Here. Hy sal dit doen. Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat daar direk na die oes geploeg sal word en dat daar direk na die saaityd gepars sal word. Die berge sal van druiwesap drup, al die heuwels sal deurnat wees. Ek sal die lot van my volk Israel verander: hulle sal die verlate stede herbou en bewoon, hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink, hulle sal tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. Ek sal my volk weer in hulle grond plant, en hulle sal nie weer uitgeruk word uit die grond wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God.
AMOS 9:11-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Op daardie dag sal Ek die vervalle skuiling van Dawid herstel. Ek sal die bresse toebou en die ruïnes herbou om te wees soos in die dae van weleer, sodat hulle dié wat oorgebly het van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, in besit kan neem,” is die uitspraak van die HERE, wat dit gaan doen. “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die HERE, “wanneer die een wat ploeg die een wat graan oes, sal inhaal, en die een wat druiwe trap die een wat die saadsak dra. Die berge sal drup van druiwesap en die heuwels sal golf van graan. Ek sal die lot van my volk Israel verander. Hulle sal hulle verwoeste stede herbou en bewoon; hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink; hulle sal tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. Ek sal hulle plant in hulle grond en hulle sal nie weer verwyder word van die grond wat Ek aan hulle gegee het nie,” sê die HERE, jou God.
AMOS 9:11-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In dié dag sal Ek die vervalle tabernakel van Dawid oprig en sy skeure toemaak; en Ek sal sy puinhope oprig en dit bou soos in die dae van ouds. Sodat hulle die oorblyfsel van Edom en van al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, in besit kan neem, spreek die HERE wat dit doen. Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat die ploegman die maaier sal inhaal en die druiwetrapper die saadsaaier; en die berge sal soet wyn drup, en al die heuwels sal smelt. En Ek sal die ballingskap van my volk Israel terugbring, en hulle sal die puinhope stede bou en hulle bewoon; en hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink; hulle sal ook tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. En Ek sal hulle in hulle land plant, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hulle land wat Ek hulle gegee het nie, spreek die HERE jou God.
AMOS 9:11-15 Die Boodskap (DB)
“Die dag sal kom waarop Ek die huis van Dawid heel sal maak. Soos ’n mens ’n murasie herstel om dit weer ’n huis te maak om in te woon, sal Ek die gate in die muur toestop. Ek sal die mure weer opbou. Ek sal dit herstel om weer te lyk soos dit vroeër gelyk het. Ek gaan Israel oor Edom aanstel. Hy sal in beheer wees van al die nasies waaroor Ek regeer,” sê die Here wat dit gaan laat gebeur. “Daar kom ’n tyd van voorspoed,” sê die Here. “Wanneer die oes skaars bymekaar-gemaak is, sal dit al weer tyd wees om te begin ploeg om die saad in die grond te kry. Die saaityd sal nog aan die gang wees, dan sal dit al weer tyd wees om druiwe te pluk om te pars. Daar sal so baie druiwe wees om uit te trap dat die druiwesap teen die berge sal afstroom. Die heuwels sal oorvloei word met nuwe wyn. “Ek sal my volk Israel se omstandighede verander. Hulle sal terugkom uit die lande waarheen hulle weggevat is. Hulle sal teruggaan na die dorpe waar hulle gewoon het. Hulle sal woon in die stede wat hulle opgebou het. Hulle sal weer wingerde aanplant en druiwe vir wyn kan pluk. Hulle sal weer tuine hê wat vir hulle groente gee. Ek sal hulle terugplant in die grond wat Ek vir hulle gegee het. Hulle sal nooit weer uit daardie grond uitgetrek kan word nie,” sê die Here jou God.
AMOS 9:11-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“As dié dag aanbreek, sal Ek die vervalle huis van Dawid weer herstel. Ek sal die stukkende mure weer opbou, al lyk dit nou soos ’n vervalle huis. Ek sal dit herstel sodat dit lyk soos voorheen. Israel sal heers oor wat oorgebly het van Edom. Hulle sal ook heers oor al die nasies wat my Naam dra.” Dit, sê die HERE, sal Hy doen! Verder sê Hy: “’n Dag sal kom wanneer die graan en die druiwe vinniger sal groei as wat hulle kan oes. Die sap sal afdrup van die wingerde teen die berghange, dit sal teen die skuinstes afvloei. Ek sal my volk Israel uit ballingskap laat terugkom. Hulle sal die verwoeste dorpe weer opbou en bewoon. Hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink. Hulle sal boorde aanplant en die vrugte daarvan eet.” Die HERE hulle God sê: “Ek sal hulle in hulle land hervestig. Ek sal nooit weer toelaat dat iemand hulle wegneem uit die land wat Ek vir hulle gegee het nie.”