Sagaria 1

1
Oproep tot terugkeer na die Here
1 In die tweede regeringsjaar van koning Darius, in die agtste maand, het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria, seun van Beregja en kleinseun van Iddo:
2“Die Here was vol grimmigheid teen julle voorouers. 3Sê vir die mense, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer. ” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.
“ ‘Die Here, Heerser oor alle magte, sê: 4 “Moenie wees soos julle voorouers nie, hulle aan wie die vroeëre profete verkondig het, ‘So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Draai tog weg van julle verkeerde paaie en van julle verkeerde dade!” ’ Maar hulle het nie geluister en hulle nie aan My gesteur nie, is die uitspraak van die Here.
5“ ‘ “Julle voorouers, waar is hulle nou? En die profete, leef hulle vir altyd? 6 Maar my woorde en voorskrifte, wat Ek my dienaars die profete beveel het, het dit nie julle voorouers ingehaal nie? Hulle het tot inkeer gekom en erken, ‘Soos wat die Here, Heerser oor alle magte, beplan het om aan ons te doen, in ooreenstemming met ons lewe en ons dade, so het Hy met ons gedoen.’ ” ’ ”
Eerste visioen
7 Op die vier-en-twintigste dag van die elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, was dít die woord van die Here aan die profeet Sagaria, seun van Beregja en die kleinseun van Iddo.
8 In die nag het ek gesien: Kyk, daar was 'n man wat op 'n vosperd gery het. Hy het in die diep vallei tussen die mirtestruike gestaan. Agter hom was daar nog perde, bruines, vosperde en wittes.
9Toe vra ek: “Wat beteken dit, my heer?” En die engel wat met my praat, antwoord my: “Ek sal jou wys wat dit beteken.”
10Die man wat tussen die mirtestruike staan, het geantwoord en gesê: “Dit is die ruiters wat die Here gestuur het om die aarde te deurkruis.”
11En hulle het die •engel van die Here wat tussen die mirtestruike gestaan het, geantwoord en gesê: “Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die hele aarde is stil en rustig.”
12 Daarop het die engel van die Here weer gepraat en gevra: “Here, Heerser oor alle magte, hoe lank gaan U nog u ontferming weerhou van Jerusalem en die dorpe van Juda, teen wie U nou al sewentig jaar lank ontstoke is?”
13Die Here het toe die engel wat met my praat, met vriendelike en troosvolle woorde geantwoord. 14 En toe sê die engel wat met my praat, vir my: “Roep dit uit! So sê die Here, Heerser oor alle magte: ‘Ek is diep besorg oor Jerusalem en Sion; 15 maar Ek is vol fel grimmigheid teen die selfvoldane nasies. Ek was eers minder grimmig, maar hulle het die onheil vererger.’
16“ ‘Daarom,’ so sê die Here, ‘keer Ek vol ontferming terug na Jerusalem. My huis sal daar gebou word, en Jerusalem sal met 'n maatlyn uitgemeet word.’ Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. 17 En verkondig ook verder: “So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘My stede sal weer oorloop van goeie dinge. Die Here sal Sion weer vertroos en Hy sal Jerusalem weer verkies.’ ” ’ ”
Tweede visioen
18 Ek het opgekyk en gesien: Daar was vier horings! 19 Ek het die engel wat met my praat, gevra: “Wat beteken dit?”
En hy het my geantwoord: “Dit is die horings wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.”
20Toe wys die Here vir my vier ambagsmanne. 21En ek vra: “Wat kom hierdie manne doen?”
Hy het geantwoord: “Dit is die horings wat Juda só verstrooi het dat niemand sy kop kon optel nie. En hierdie manne het gekom om die horings te verskrik en neer te gooi, die horings van die nasies wat die horing teen Juda gelig het om hulle te verstrooi.”

Tans Gekies:

Sagaria 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid