Rut 3

3
Rut op die dorsvloer
1Naomi, Rut se skoonmoeder, het vir haar gesê: “My dogter, moet ek nie vir jou 'n tuiste soek waar dit met jou goed sal gaan nie? 2Nou ja, Boas wie se werkers jy gevolg het, is mos familie van ons. Hy gaan vanaand by die dorsvloer gars uitwan. 3Was jou, smeer geurige olie aan en trek jou beste klere aan. Dan gaan jy af dorsvloer toe. Maar moenie dat die man weet jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4En as hy gaan slaap, maak seker van die plek waar hy lê. Gaan dan nader, maak sy voete oop en gaan lê daar. Hy sal dan self vir jou sê wat jy moet doen.” 5Rut het geantwoord: “Ek sal alles doen wat u sê.”
6Sy het na die dorsvloer toe afgegaan en alles gedoen wat haar skoonmoeder haar voorgesê het. 7Nadat Boas geëet en gedrink het, en sy hart vrolik was, het hy aan die kant van die hoop graan gaan lê. Sy het stilletjies nader gegaan, sy voete oopgemaak en daar gaan lê. 8In die middel van die nag skrik Boas wakker. Iets raak aan hom, en sowaar, daar lê 'n vrou by sy voete! 9“Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi die soom van u kleed oor u slavin, want u is die losser. ” 10Hy sê toe: “Mag jy geseën word deur die Here , my dogter. Jou trou aan die familie blyk nou nog duideliker as voorheen, aangesien jy nie agter jong mans, of hulle arm of ryk is, aanloop nie. 11Moet dus nie bang wees nie, my dogter. Alles wat jy vra, sal ek doen. Al my mense in die dorp weet immers dat jy 'n deugsame vrou is. 12Dit is nou wel waar dat ek 'n losser is, maar daar is ook 'n losser wat nader familie is as ek. 13Bly vannag hier. En môreoggend, as hy jou wil loskoop, goed, laat hy jou dan loskoop. Maar as hy jou nie wil loskoop nie, dan sal ek, so waar as die Here leef, dit self doen. Bly nou maar lê tot môreoggend.” 14Sy het tot die môre toe by sy voete bly lê.
Nog voordat 'n mens iemand anders sou kon herken, het sy opgestaan, want hy het gesê: “Dit mag nie bekend word dat 'n vrou na die dorsvloer gekom het nie.” 15Boas sê toe vir haar: “Gee die sjaal wat jy om het en hou dit oop.” Sy het dit oopgehou, en hy het ses mate gars daarop afgemeet en dit op haar skouer getel. Daarna is hy die dorp in.
16Toe sy by haar skoonmoeder kom, vra sy vir haar: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?” Sy het haar alles vertel wat die man vir haar gedoen het. 17Sy het ook gesê: “Hierdie ses mate gars het hy vir my gegee, want hy het gesê, ‘Jy mag nie met leë hande by jou skoonmoeder aankom nie.’ ” 18Naomi antwoord: “My dogter, wag nou maar totdat jy weet hoe die saak uitval. Die man sal nie tot rus kom tensy hy die saak vandag nog afhandel nie.”

Tans Gekies:

Rut 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid