Romeine 9:19-33
Romeine 9:19-33 AFR20
Jy sal nou vir my sê: “Hoe kan Hy dan nog 'n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan?” Wie is jy tog, o mens, om God te weerspreek? Sal die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei 'n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie? As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie? Dit is ons wat Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Jode. So sê Hy ook in Hosea: “Hulle wat nie my volk was nie, sal Ek my volk noem, en haar wat nie geliefd was nie, sal Ek my geliefde noem.” En: “Op daardie plek waar vir hulle gesê is, ‘Julle is nie my volk nie,’ juis daar sal hulle kinders van die lewende God genoem word.” Maar Jesaja roep aangaande Israel uit: “Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, sal net 'n oorblyfsel verlos word; want die Here gaan 'n volledige en spoedige afrekening op die aarde hou.” En soos Jesaja reeds gesê het: “As die HERE, Heerser oor alle magte, nie vir ons 'n nageslag laat oorbly het nie, sou ons soos Sodom geword het, en sou dit met ons soos met Gomorra gegaan het.” Wat sal ons dan sê? Dat die heidene die •geregtigheid wat hulle nie nagejaag het nie, verkry het, naamlik die regverdiging deur die geloof, terwyl Israel, wat geregtigheid deur die wet nagejaag het, die eis van die wet nie kon nakom nie? Waarom nie? Omdat hulle dit nie op grond van geloof wou verkry nie, maar op grond van hulle dade. Hulle het oor die struikelblok gestruikel, soos daar geskryf staan: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val; maar wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”



