Romeine 15:1-13
Romeine 15:1-13 AFR20
Ons wat sterk is in die geloof, is verplig om die swakhede te dra van diegene wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie. Laat elkeen van ons sy medemens behaag met die oog op wat vir hom goed is en hom kan opbou. •Christus het tog ook nie Homself behaag nie, maar, soos daar geskryf staan: “Die beledigings van hulle wat U beledig, het My getref.” Alles wat vroeër opgeteken is, is tog vir ons tot lering opgeteken, sodat ons hoop kan hê deur die volharding en die bemoediging wat ons uit die Skrif ontvang. En mag die God wat volharding en bemoediging bewerk, gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring. Daarom, aanvaar mekaar, soos •Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. Ek sê vir julle dat Christus 'n Dienaar van die besnedenes geword het ter wille van die waarheid van God, sodat Hy die beloftes aan die vaders kon bevestig, en die nasies God oor sy ontferming kan verheerlik, soos daar geskryf staan: “Daarom sal ek U loof onder die nasies, en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing.” En daar staan ook: “Wees bly, nasies, saam met sy volk.” En weer: “Loof die Here, alle nasies! Prys Hom, alle volke!” En Jesaja sê op sy beurt: “Daar sal 'n loot van Isai kom, en Hy sal opstaan om oor die nasies te regeer; en op Hom sal die nasies hoop.” Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.





