Romeine 13

13
Gelowiges en die owerheid
1Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. 2Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal 'n oordeel oor hulleself bring. 3Die owerhede boesem immers nie vrees in as dit kom by goeie optrede nie, maar wel by slegte optrede. Wil jy sonder vrees vir die owerheid leef? Doen dan die goeie, en jy sal lof van die owerheid ontvang. 4Want die owerheid is 'n dienaar van God, tot jou beswil. Maar as jy die kwade doen, moet jy bang wees. Die owerheid dra nie verniet die swaard nie. Hy is immers 'n dienaar van God, aangestel om die kwaaddoener te straf. 5Dit is dus noodsaaklik om onderdanig te wees, nie net uit vrees vir die straf nie, maar ook ter wille van jou gewete.
6Daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat hulle juis hiermee bemoei. 7Betaal aan almal wat hulle toekom: belasting aan wie belasting, tolgeld aan wie tolgeld, ontsag aan wie ontsag, eer aan wie eer toekom.
Verdere voorskrifte
8Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe die verpligting om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, het die wet vervul. 9Want dit, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod ook al, word saamgevat in hierdie uitspraak: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 10Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet.
11Boonop ken julle die bestemde tyd – dat die uur reeds daar is om uit die slaap wakker te word – ja, ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het. 12Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag. Kom ons doen dan afstand van die praktyke van die duisternis en trek die wapenrusting van die lig aan. 13Kom ons leef betaamlik, soos in die dag – nie met gefuif en dronkenskap nie, nie met ontug en losbandigheid nie, nie met rusie en afguns nie. 14Beklee julle egter met die Here Jesus •Christus; en maak nie voorsiening vir julle sondige aard om sy drange te bevredig nie.

Tans Gekies:

Romeine 13: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid