Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

Romeine 12:4-16

Romeine 12:4-16 AFR20

Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, net so is ons, al is ons baie, een liggaam in •Christus, en individueel lede van mekaar. Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is: As dit die gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof; as dit is om ander te dien, gebruik dit dan vir dienswerk. Wie onderrig kan gee, moet onderrig; wie kan bemoedig, moet bemoediging gee; wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen; wie leiding kan gee, moet dit met toewyding doen; wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen. Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed. Betoon meelewing met die behoeftes van die •heiliges; lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur. Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie.

Video vir Romeine 12:4-16