ROMEINE 12:4-16 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
ROMEINE 12:4-16 AFR83 (Afrikaans 1983)
Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid. Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie.
ROMEINE 12:4-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie 'n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid. LAAT die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid; seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie
ROMEINE 12:4-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam omdat ons aan Christus verbind is, en as ledemate van hierdie één liggaam hoort ons saam en het ons mekaar nodig. Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. As God aan jou die gawe gegee het om te profeteer, moet jy dit aanwend in ooreenstemming met ons geloofsoortuigings. As dit is om ander te dien, doen dit met oorgawe. As jy onderrig gee, gee dan kwaliteitonderrig. As dit is om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe. As God aan jou leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met ’n vrolike hart. Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart. Haat alles wat verkeerd is; kies kant vir wat goed is. As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer. Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie. As medegelowiges in nood verkeer, wees jy die een om ’n helpende hand na hulle toe uit te steek. Maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees – maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie. As mense julle oor julle geloof vervolg, moenie ’n vloek oor hulle uitspreek nie, maar vra God om hulle te seën. As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle. Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder. Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie.
ROMEINE 12:4-16 DB (Die Boodskap)
Ek wil dit met die beeld van ’n liggaam verduidelik. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons as kerk is ook soos ’n liggaam. Ons is Christus se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies. Om ons te help om hierdie funksies te vervul het God vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee. Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie. God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het. As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit. Maak sy wil bekend in die geloof wat jy daarmee saam uit God se hand ontvang het. As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe. As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan, doen net dit. As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit. As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie. As dit God se geskenk aan jou is dat jy een van die leiers in die kerk moet wees, doen dit met toewyding. En as jy oor die gawe beskik om mense te help wat in nood verkeer, doen dit met blydskap. Moenie net maak asof julle mekaar liefhet nie. Nee, gee regtig vir mekaar om. Haat alles wat sleg is. Doen net waarvan God hou. Julle moet mekaar soos eie broers en susters liefhê. Behandel mekaar met groot respek en agting. Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe. Sien met blydskap uit na daardie dag waarop die Here alles nuut kom maak. Moenie mismoedig word as julle ly omdat julle Christene is nie. Bid sonder ophou. Help ander gelowiges wat swaarkry. Wees gasvry. Stel julle huise tot beskikking van gelowiges wat nie ’n plek het om tuis te gaan nie. Moenie mense beledig wat julle vervolg nie. Bid eerder dat God sy goedheid in hulle lewens sal uitstort. Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is. Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie. Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig.
ROMEINE 12:4-16 ABA (Bybel vir almal)
Ons is soos 'n mens se liggaam. 'n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele, en elke deel doen iets anders. Dit is dieselfde met ons. Ons is baie mense, maar ons behoort aan Christus en daarom is ons soos een liggaam, ons behoort almal aan mekaar. God het genadegawes vir ons gegee, maar God het nie dieselfde genadegawes vir ons almal gegee nie. As party van ons die boodskappe van God vir die ander gelowiges kan bring, dan moet ons die regte boodskappe vir hulle bring. As party van ons die ander gelowiges kan dien, dan moet ons hulle dien. As party van ons vir die ander gelowiges kan leer, dan moet ons vir hulle leer. As party van ons vir die ander gelowiges kan help om reg te lewe, dan moet ons vir hulle help. As party van ons vir die ander gelowiges van ons eie goed en geld kan gee, dan moet ons baie gee. As party van ons leiers kan wees, dan moet ons hard werk om goeie leiers te wees. As party van ons goed kan wees vir mense wat swaarkry, dan moet dit vir ons lekker wees om dit te doen. Julle moet waarlik lief wees vir mekaar. Julle moet slegte dinge haat en graag goeie dinge doen. Julle behoort aan Christus en aan mekaar, daarom moet julle lief wees vir mekaar. Julle moet eerste wees om ander mense te respekteer. Julle moenie lui wees nie, julle moet hard werk in die gemeente. Dit moet vir julle lekker wees. Julle moet die Here dien. Julle moet wys dat julle bly is, want julle weet dat die Here julle sal red. Wanneer julle swaarkry, dan moet julle geduldig wees. Julle moet aanhou bid. Party mense wat ook aan die Here behoort, het baie min goed. Julle moet van julle goed vir hulle gee. Julle moet vriendelik wees met vreemdelinge. Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle vir die Here vra om goed te wees vir hulle, julle moenie vir Hom vra om hulle te straf nie. Wanneer ander mense bly is, dan moet julle saam met hulle bly wees. Wanneer hulle hartseer is, dan moet julle saam met hulle hartseer wees. Julle moet altyd gereed wees om saam te werk met mekaar. Julle moenie dink dat julle baie belangrik is en dat julle nie by mense kan wees wat nie so belangrik soos julle is nie. Julle moenie dink julle weet alles nie.
ROMEINE 12:4-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, net so is ons, al is ons baie, een liggaam in •Christus, en individueel lede van mekaar. Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is: As dit die gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof; as dit is om ander te dien, gebruik dit dan vir dienswerk. Wie onderrig kan gee, moet onderrig; wie kan bemoedig, moet bemoediging gee; wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen; wie leiding kan gee, moet dit met toewyding doen; wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen. Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed. Betoon meelewing met die behoeftes van die •heiliges; lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur. Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie.
ROMEINE 12:4-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Want soos ons baie lede in een liggaam het, en al die lede nie dieselfde amp het nie: So is ons, wat baie is, een liggaam in Christus en elkeen lede van mekaar. Terwyl ons dan gawes het wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is, of dit nou profesie is, laat ons profeteer volgens die verhouding van geloof; Of bediening, laat ons wag op ons bediening; of hy wat leer, op lering; Of hy wat vermaan, op vermaning; wie gee, laat hom dit eenvoudig doen; hy wat regeer, met ywer; hy wat barmhartigheid bewys, met blymoedigheid. Laat die liefde onbeskaamd wees. Verafsku wat sleg is; hou vas aan wat goed is. Wees vriendelik teenoor mekaar met broederliefde; in eer om mekaar te verkies; Nie traag in besigheid nie; vurig van gees; dien die Here; Juig in die hoop; geduldig in verdrukking; voortdurende oomblik in gebed; Uitdeel aan die noodsaaklikheid van heiliges; aan gasvryheid gegee. Seën die wat julle vervolg; seën en moenie vloek nie. Wees bly saam met die wat bly is, en ween saam met die wat ween. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie let op hoë dinge nie, maar neerbuig teenoor mense met 'n lae eiendom. Wees nie wys in jou eie voorstellings nie.