Psalms 62

62
1Vir die •musiekleier. Op Jedoetoen. 'n Psalm. Van Dawid.
2 Net by God vind ek rus;
van Hom kom my verlossing.
3Net Hy is my rots, my verlossing,
my toevlugsoord;
ek sal beslis nie wankel nie.
4Hoe lank nog gaan julle
'n man bly aanval,
vermoor julle almal hom –
asof hy 'n muur is wat oorhel,
'n tuinmuur wat omgestoot word?
5Ja, hulle beplan om hom
af te stoot van sy hoë plek,
hulle hou van leuens.
Met die mond seën hulle,
maar in hulle binneste vloek hulle. •Sela
6Vind rus by God alleen, my siel,
want op Hom is my hoop gevestig.
7Net Hy is my rots, my verlossing,
my toevlugsoord.
Ek sal nie wankel nie.
8By God lê my verlossing, my eer.
My sterk rots, my skuilplek,
vind ek in God.
9Vertrou te alle tye op Hom, o volk,
stort julle hart voor Hom uit.
God is vir ons 'n skuilplek. Sela
10Net 'n asemteug is die mens,
onbetroubaar is mense;
op 'n skaal weeg hulle byna niks,
saam is hulle ligter as 'n asemteug.
11Moet op afpersing nie staatmaak,
op plunder julle ydele hoop
nie vestig nie.
Rykdom, as dit toeneem –
moet julle hart nie daarop sit nie.
12Een saak het God bevestig,
twee, wat ek gehoor het:
Krag is by God;
13 by U, my Heer,
is daar troue liefde,
want U self beloon 'n mens
volgens sy dade.

Tans Gekies:

Psalms 62: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid