Psalms 106

106
1Halleluja!
Prys die Here, want Hy is goed;
ja, vir ewig duur sy troue liefde.
2Wie kan die magtige dade
van die Here verwoord,
al sy lof verkondig?
3Gelukkig is hulle
wat die reg onderhou,
te alle tye geregtigheid handhaaf!
4Dink aan my, Here, uit
welwillendheid teenoor u volk;
sien om na my tydens u verlossing,
5sodat ek die voorspoed
van u uitverkorenes mag ervaar,
mag deel in die vreugde van u nasie,
en saam met u erfdeel mag roem.
6Ons het saam met ons voorouers
gesondig,
ons het afgedwaal, goddeloos opgetree.
7Ons voorouers het in Egipte
u wonders nie begryp nie,
en u oorvloedige troue liefde
nie onthou nie,
maar in opstand gekom by die see,
by die Rietsee.
8En tog het Hy hulle verlos
ter wille van sy Naam,
om sy mag bekend te maak.
9Hy het die Rietsee gedreig,
en dit het droog geword;
Hy het hulle deur die watermassa
laat gaan asof deur 'n woestyn.
10 Hy het hulle verlos uit die hand
van haters,
hulle vrygekoop uit die hand
van vyande.
11Die water het hulle teenstanders
bedek;
nie een van hulle het oorgebly nie.
12Toe het hulle sy beloftes geglo;
hulle het sy lof besing.
13Maar gou het hulle sy dade vergeet;
hulle het nie sy raad afgewag nie.
14Hulle gulsigheid het hulle
in die woestyn oorval;
hulle het God uitgedaag
in die wildernis.
15Hy het vir hulle gegee
wat hulle gevra het,
maar Hy het 'n verterende siekte
in hulle kele laat ontstaan.
16In die kamp was hulle jaloers
op Moses, op Aäron,
die gewyde van die Here.
17Die aarde het oopgegaan
en Datan verswelg,
dit het toegegaan oor die bende
van Abiram.
18'n Vuur het onder hulle bende
uitgebreek,
vlamme het die goddeloses verskroei.
19Hulle het by Horeb 'n kalf gemaak,
in aanbidding gebuig voor 'n gegote beeld.
20 Hulle het hulle Majesteit verruil
vir die afbeelding van 'n bees
wat gras eet!
21Hulle het God wat hulle verlos, vergeet,
Hy wat groot dade in Egipte gedoen het,
22wonders in die land van Gam,
ontsagwekkende dade by die Rietsee.
23Hy het daaraan gedink
om hulle uit te roei,
as Moses, sy uitverkorene,
nie by Hom in die bres
getree het vir hulle
om sy vernietigende toorn
af te weer nie.
24Hulle het 'n kosbare land afgewys;
hulle het nie sy woord geglo nie.
25 Hulle het in hulle tente gemor
en nie na die stem van die Here
geluister nie.
26Hy het met sy hand omhoog
gesweer om hulle in die
woestyn neer te vel,
27om hulle nageslag neer te vel
onder die nasies,
hulle te verstrooi in ander lande.
28Hulle het hulle ook aan
Baäl-Peor verbind
en offerandes aan dooies geëet.
29Hulle het Hom met hulle optrede
getart,
en 'n plaag het onder hulle uitgebreek.
30Pinehas het opgestaan,
tussenbeide getree,
en die plaag is gestuit.
31Dit is hom toegereken
as 'n regverdige daad,
van geslag tot geslag, vir altyd.
32By die water van Meriba
het hulle Hom vertoornd gemaak
en deur hulle toedoen het dit
sleg afgeloop vir Moses –
33omdat hulle teen God se Gees
in opstand was,
het onbesonne woorde
oor sy lippe gekom.
34Hulle het nie die volke uitgeroei
wat die Here vir hulle
aangedui het nie.
35Hulle het met die nasies
vermeng geraak
en hulle gebruike aangeleer.
36Hulle het hulle afgode gedien,
en dit het vir hulle 'n valstrik geword.
37 Hulle het hulle seuns en dogters
aan demone geoffer
38en so onskuldige bloed vergiet,
die bloed van hulle seuns
en dogters wat hulle vir die
afgode van Kanaän geoffer het.
Die land is deur bloedskuld besoedel.
39Hulle het •onrein geword
deur daardie gebruike;
hulle het troubreuk gepleeg
deur hulle dade.
40Die toorn van die Here
het teen sy volk ontbrand;
Hy het 'n weersin gekry in sy erfdeel
41en hulle oorgegee in die hand
van nasies,
sodat hulle haters oor hulle geheers
42en hulle vyande hulle geteister het;
hulle moes buig onder hulle hand.
43Baie kere het Hy hulle gered,
maar hulle was doelbewus opstandig
en het in hulle sondeskuld weggesink.
44Tog het Hy hulle nood raakgesien
telkens wanneer Hy hulle
klaagroep hoor.
45 Om hulle ontwil het Hy
aan sy verbond gedink,
en Hy het hulle jammer gekry
uit die oorvloed van sy troue liefde.
46Hy het gesorg dat daar ontferming is
by almal wat hulle weggevoer het.
47Verlos ons, Here ons God!
Bring ons uit die nasies bymekaar
sodat ons u •heilige Naam kan prys,
sodat ons kan roem op die lof wat U toekom.
48 Lofwaardig is die Here, die God van Israel,
van ewigheid af en vir ewig.
Die hele volk moet sê:
“•Amen! Halleluja!”

Tans Gekies:

Psalms 106: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid