Psalms 105

105
1Prys die Here, roep sy Naam uit;
maak onder die volke sy dade bekend.
2Sing vir Hom, besing Hom!
Praat met oorgawe
oor al sy wonderwerke.
3Beroem julle in sy •heilige Naam;
laat die harte van hulle
wat die Here opsoek, bly wees.
4Soek die Here en sy krag,
soek voortdurend
sy teenwoordigheid op.
5Roep die wonders wat Hy
gedoen het in herinnering,
sy tekens en die oordele
van sy mond –
6nageslag van Abraham,
sy dienskneg,
kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
7Hy is die Here ons God;
oor die hele wêreld geld sy beslissings.
8 Hy onthou vir altyd sy verbond,
die woord wat Hy beveel het,
vir duisend geslagte,
9wat Hy gesluit het met Abraham
en met 'n eed beloof het aan Isak.
10Hy het dit aan Jakob bevestig
as 'n vaste voorskrif,
aan Israel as 'n ewige verbond,
11met die woorde:
“Aan jou sal Ek die land Kanaän
gee as julle afgemete erfdeel.”
12Toe hulle nog min in getal was,
baie min,
en hulle •vreemdelinge in die land was,
13het hulle van een nasie
na die ander geswerf,
van een koninkryk na 'n ander volk.
14Hy het geen mens toegelaat
om hulle te verdruk nie.
Hy het konings oor hulle tereggewys:
15“Moenie aan my gesalfdes raak nie;
my profete moet julle
geen kwaad aandoen nie.”
16Hy het hongersnood uitgeroep
oor die land;
elke stok vir brood het Hy gebreek.
17Hy het iemand voor hulle uit gestuur;
as 'n slaaf is Josef verkoop.
18Mense het sy voete in boeie geklem,
'n yster is om sy nek gesit
19tot die tyd toe sy woord vervul is.
Die woord van die Here
het hom gelouter.
20Die koning het 'n boodskap gestuur
en hy is losgelaat;
die heerser van volke het hom vrygelaat.
21 Hy het hom heer oor sy huis gemaak,
en heerser oor alles wat hy besit,
22om sy •hoë amptenare
na willekeur te beperk,
en sy oudstes wysheid te leer.
23Israel het in Egipte aangekom,
Jakob was 'n •vreemdeling
in die land van Gam.
24Die Here het sy volk
baie vrugbaar gemaak;
Hy het hulle magtiger gemaak
as hulle teenstanders,
25wie se harte Hy verander het
om sy volk te haat,
om slu op te tree
teen sy diensknegte.
26Hy het sy dienskneg Moses gestuur,
ook Aäron wat Hy uitgekies het.
27Hulle het onder hulle
sy aangekondigde tekens uitgevoer,
en wonders in die land van Gam.
28Hy het duisternis gestuur,
dit donker gemaak –
was hulle dan nie opstandig
teen sy woorde nie?
29Hy het hulle water in bloed verander,
hulle vis laat doodgaan.
30Hulle land was oortrek met paddas,
tot in die slaapkamers
van hulle koninklikes.
31Hy het gepraat,
en daar het steekvlieë gekom,
muggies in hulle hele gebied.
32Hy het hulle reënbuie hael gemaak,
met weerligstrale in hulle land.
33Dit het hulle wingerde
en vyebome platgeslaan,
die bome in hulle gebied verniel.
34Hy het gepraat,
en daar het treksprinkane
gekom, ontelbare voetgangers.
35Dit het al die plante in hulle land
kaal gevreet;
dit het die opbrengs van hulle
landerye opgevreet.
36Hy het al die •eersgeborenes
in hulle land getref,
die eerstelinge van al
hulle manlike krag.
37Hy het sy volk laat wegtrek
met silwer en goud;
onder sy stamme was daar niemand
wat struikel nie.
38Egipte was bly toe hulle wegtrek,
want vrees vir sy volk het hulle oorval.
39Hy het 'n wolk uitgesprei
as bedekking,
en 'n vuur om die nag te verlig.
40 Hulle het gevra,
en Hy het kwartels laat kom;
met brood uit die hemel
het Hy hulle versadig.
41Hy het 'n rots oopgemaak,
en water het gevloei;
dit het soos 'n rivier
deur die dorre streek geloop.
42 Ja, Hy het sy •heilige belofte
aan Abraham, sy dienskneg, onthou.
43Hy het sy volk laat wegtrek
met vreugde,
sy uitverkorenes met jubelkrete.
44Hy het aan hulle die landstreke
van volke gegee.
Wat nasies met moeite verkry het,
het hulle in besit geneem,
45sodat hulle sy vaste
voorskrifte kan nakom
en by sy wette kan hou.
Halleluja!

Tans Gekies:

Psalms 105: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid