Spreuke 31:10-31

Spreuke 31:10-31 AFR20

'n Knap vrou, wie sal haar vind? Ver bo korale is haar waarde. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan besittings sal dit hom nie ontbreek nie. Sy doen goed aan hom en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. Sy soek wol en linne uit, en werk met ywerige hande. Sy is soos die skepe van 'n handelaar, van ver af bring sy haar brood in. Sy staan op terwyl dit nog nag is; sy voorsien voedsel vir haar huisgesin, en porsies vir haar diensmeisies. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit; met die verdienste van haar hande plant sy 'n wingerd. Daadkragtig omgord sy haar heupe; sy steek haar hande uit haar moue. Sy merk dat sy goeie wins maak; snags gaan haar lamp nie dood nie. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. Haar handpalms strek sy uit na magteloses; haar hande steek sy uit na behoeftiges. Sy is nie bekommerd oor haar huisgesin wanneer dit sneeu nie, want haar hele gesin is geklee in karmosynrooi weefstof. Sy maak vir haar dekens; haar bokleed is van linne en purperrooi wol. Haar man is bekend in die stadspoorte wanneer hy saam met die oudstes van die land sit. Sy maak klere van linne en verkoop dit; gordels lewer sy aan die handelaars. Krag en luister is haar bokleed; sy lag onbesorg oor die toekoms. Haar mond maak sy oop met wysheid, en liefdevolle onderrig is op haar tong. Sy hou haar oog op die werk in haar huis; brood van luiheid eet sy nie. Haar kinders tree na vore en noem haar gelukkig; haar man, hy besing haar lof: “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal.” Sjarme is bedrieglik en skoonheid is nietig; 'n vrou wat vir die HERE ontsag het, sy moet geprys word. Gee aan haar 'n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid