SPREUKE 31:10-31

SPREUKE 31:10-31 NLV

Waar sal jy ’n knap vrou kry? ’n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar. Hy pluk die vrugte van haar werk. Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel, nie ellende nie. Sy kry wol en vlas in die hande en verwerk dit met genot. Sy is soos die handelskepe, van ver af bring sy haar kos in. Sy staan op as dit nog nag is. Sy maak ontbyt vir haar huisgesin. Die dag se werk deel sy aan haar slavinne uit. Sy bereken die waarde van ’n stuk grond en koop dit. Sy plant ’n wingerd daarop met die geld wat sy verdien. Sy werk baie hard. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy kyk of haar transaksies winsgewend is. Haar lamp brand deur die hele nag. Sy werk met die spinwiel, haar hande is bedrywig met die weefbalk. Haar hand is oop vir die armes. Sy is vrygewig teenoor behoeftiges. Die wintersneeu hou geen vrees in vir haar huisgesin nie. Hulle het almal warm klere. Sy maak vir haarself dekens. Sy dra goeie klere van linne en wol. Almal in die poort ken haar man. Hy dien op die raad van die leiers van die land. Sy verkoop die klere wat sy maak en voorsien handelaars van gordels. Sy het innerlike krag en waardigheid. Sy is nie bekommerd oor die toekoms nie. Sy praat met wysheid, sy gee raad saam met liefde. Sy hou toesig oor alles wat in haar huis gebeur. Sy verdra nie luiheid nie. Haar kinders staan op en prys haar. Haar man spog met haar: “Daar is baie knap vroue, maar jy is die beste van almal!” Skoonheid is soms misleidend. ’n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie. ’n Vrou wat ontsag het vir die HERE verdien om geprys te word. Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort op grond van alles wat sy gedoen het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid