SPREUKE 31:10-31

SPREUKE 31:10-31 Bybel vir almal (ABA)

Wanneer iemand 'n goeie vrou kry, dan het hy 'n vrou wat meer kosbaar is as koraal. Haar man weet dat sy sal doen wat sy belowe het, hy weet dat sy goed altyd meer sal word. Sy laat dit goed gaan met hom, nie sleg nie, haar hele lewe lank. Sy maak wol en vlas bymekaar en sy geniet dit om met haar hande te werk. Sy is soos die skepe van 'n handelaar, sy bring van ver plekke die kos wat sy nodig het. Sy staan op wanneer dit nog donker is, sy gee vir haar huisgesin kos en sy gee vir haar bediendes werk. Sy dink goed oor 'n stuk grond en sy koop dit, sy neem van haar eie geld en sy plant daar wingerdstokke. Sy is sterk, sy kan aanhou werk. Wanneer sy sien dat mense graag haar goed koop, dan werk sy die hele nag. Sy steek haar hande uit en sy werk by die spinwiel en die weefstoel. Sy gee graag vir mense wat hulleself nie kan beskerm nie, vir mense wat niks het nie. Wanneer dit sneeu, dan is sy nie bekommerd oor haar huisgesin nie, want hulle dra almal warm klere. Sy maak vir haar komberse, sy dra klere van linne en pers wol. Almal ken haar man, hy sit saam met die leiers van die land by die poort. Sy maak klere en sy verkoop dit, sy gee vir die handelaars nekdoeke om te verkoop. Sy is 'n sterk en 'n netjiese vrou, sy is nie bekommerd oor wat later sal gebeur nie. Wanneer sy praat, dan praat sy met wysheid, sy leer vir haar mense om vriendelik te wees. Sy kyk dat alles reg gaan in haar huis, sy is nie lui nie. Haar kinders staan regop en hulle prys haar, haar man sê dat sy 'n goeie vrou is. Hy sê: “Baie vroue doen goed, maar jy doen beter as hulle almal.” 'n Vrou bly nie altyd jonk en mooi nie, 'n vrou wat die Here dien en Hom respekteer, dit is vir háár wat ons wil prys. Sy moet self ook kry van alles waarvoor sy werk, almal by die poorte moet haar prys.

SPREUKE 31:10-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Alef. Wie sal 'n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. Dalet. Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande. He. Sy is soos die skepe van 'n handelaar — van ver af bring sy haar brood in. Wau. En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies. Sajin. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy 'n wingerd. Get. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig. Tet. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie. Jod. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige. Lamed. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof. Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper. Noen. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit. Samek. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars. Ajin. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom. Pe. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong. Sade. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie. Kof. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar: Resj. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal. Sjin. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; 'n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word. Tau. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.

SPREUKE 31:10-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank. Sy maak wol en vlas bymekaar en geniet dit om dit te verwerk. Sy is soos die handelskepe, sy bring die kos van ver af in. Sy staan op as dit nog nag is en maak kos vir haar huisgesin; ook haar slavinne kry hulle deel. Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het. Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy stel vas of die wins goed is, haar lamp bly heelnag brand. Sy werk met die spinwiel, haar hande bly besig met die weefstoel. Sy het 'n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges. Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu: hulle dra almal warm klere. Sy maak self vir haar dekens en sy dra klere van linne en wol. Haar man is welbekend by die stadspoort waar hy saam met die leiers beraadslaag. Sy maak klere en verkoop dit, sy lewer gordels aan die handelaars. Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde. Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie. Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!” Uiterlike skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word. Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.

SPREUKE 31:10-31 Die Boodskap (DB)

Wie ’n goeie vrou het, het iemand wat baie kosbaar is. Sy is baie meer werd as die duurste juwele. Haar man reken op haar en sy beteken baie vir hom. Haar hele lewe lank is sy goed vir hom. Wat nodig is vir die huis, dit kry sy. Sy verrig haar dagtaak met vreugde. Sy sal selfs ook buite die huis gaan werk om nog beter vir haar gesin te sorg. Vroegoggend staan sy op om haar gesin te versorg. Vir elkeen het sy ’n taak vir die dag. Sy het ’n oog vir ’n winskopie, maar sy dink mooi voor sy koop. Die geld wat sy so spaar, belê sy versigtig. Vir harde werk is sy nie bang nie! Wat sy aanpak, maak sy klaar. Die kanse wat die lewe haar bied, gryp sy met albei hande. Sy sal tot laat in die nag werk om haar drome waar te maak. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy doen wat sy moet doen. Vir die armes gee sy kos en die behoeftiges help sy. As die winter kom, voel sy gerus. Sy weet haar gesin het genoeg warm klere vir die koue. Baie van die mooi goed in haar huis het sy self gemaak. Haar pragtige klere is ook handgemaak. Omdat sy so bekwaam is, word haar man ook geëer. Almal ken hom. As hy by belangrike mense is, weet hulle wie hy is. Met vaardigheid maak sy klere en verkoop dit. Mense koop graag haar handewerk. Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie. Haar wyse woorde help ander om reg te leef. Sy het goeie raad vir ’n gelukkige lewe. Sy is in volle beheer van haar huishouding. Luiheid ken sy nie. Haar kinders is dankbaar vir so ’n ma. Haar man oorlaai haar met komplimente. In hierdie lewe is daar baie goeie vroue, maar hierdie vrou oortref almal. Mooiheid bedrieg, skoonheid vergaan, maar ’n vrou wat die Here liefhet, moet jy vir altyd koester. Eer haar vir wat sy doen. Almal sal haar lof besing.

SPREUKE 31:10-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Waar sal jy ’n knap vrou kry? ’n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar. Hy pluk die vrugte van haar werk. Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel, nie ellende nie. Sy kry wol en vlas in die hande en verwerk dit met genot. Sy is soos die handelskepe, van ver af bring sy haar kos in. Sy staan op as dit nog nag is. Sy maak ontbyt vir haar huisgesin. Die dag se werk deel sy aan haar slavinne uit. Sy bereken die waarde van ’n stuk grond en koop dit. Sy plant ’n wingerd daarop met die geld wat sy verdien. Sy werk baie hard. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy kyk of haar transaksies winsgewend is. Haar lamp brand deur die hele nag. Sy werk met die spinwiel, haar hande is bedrywig met die weefbalk. Haar hand is oop vir die armes. Sy is vrygewig teenoor behoeftiges. Die wintersneeu hou geen vrees in vir haar huisgesin nie. Hulle het almal warm klere. Sy maak vir haarself dekens. Sy dra goeie klere van linne en wol. Almal in die poort ken haar man. Hy dien op die raad van die leiers van die land. Sy verkoop die klere wat sy maak en voorsien handelaars van gordels. Sy het innerlike krag en waardigheid. Sy is nie bekommerd oor die toekoms nie. Sy praat met wysheid, sy gee raad saam met liefde. Sy hou toesig oor alles wat in haar huis gebeur. Sy verdra nie luiheid nie. Haar kinders staan op en prys haar. Haar man spog met haar: “Daar is baie knap vroue, maar jy is die beste van almal!” Skoonheid is soms misleidend. ’n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie. ’n Vrou wat ontsag het vir die HERE verdien om geprys te word. Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort op grond van alles wat sy gedoen het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid