Numeri 8

8
Lampe op die menora
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2 “Praat met Aäron en sê vir hom, ‘Wanneer jy die lampe op die menora sit, moet die sewe lampe na die voorkant van die menora lig gee.’ ”
3Aäron het dit toe so gedoen; hy het die lampe so opgesit dat dit na die voorkant van die menora lig gee, net soos die Here Moses beveel het. 4Die menora is so gemaak: Dit was uit een stuk goud geslaan. Vanaf die basis tot by die blomversiering was dit pletwerk. Volgens die voorbeeld wat die Here Moses gewys het, presies so het hy die menora gemaak.
Reiniging van die Leviete
5Die Here het met Moses gepraat en gesê: 6“ Verwyder die Leviete uit die midde van die Israeliete en reinig hulle. 7 So moet jy met hulle maak om hulle te reinig: Sprinkel reinigingswater op hulle. Hulle moet hulle hele liggaam skoon skeer en hulle klere was en hulleself so reinig. 8Dan moet hulle 'n jong bul neem, met die bypassende offer van gesifte meel, klam gemaak met olyfolie. Daarby moet jy 'n tweede jong bul as •reinigingsoffer neem. 9 Jy moet die Leviete voor die Tent van Ontmoeting laat nader kom en die hele volksvergadering van die Israeliete daar bymekaar laat kom. 10Jy moet die Leviete tot voor die Here laat nader kom en dan moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê. 11 Aäron moet namens die Israeliete die Leviete voor die Here as 'n gewyde gawe aanbied, sodat hulle gereed is om die dienswerk van die Here te doen. 12 Die Leviete moet hulle hande op die koppe van die jong bulle plaas. Offer die een dan as 'n reinigingsoffer, en die ander as 'n •brandoffer vir die Here om vir die Leviete versoening te doen. 13 Laat die Leviete voor Aäron en sy seuns staan en bied hulle voor die Here as 'n gewyde gawe aan. 14So moet jy die Leviete van die Israeliete afsonder; die Leviete moet aan My behoort. 15Daarna kan die Leviete ingaan om take te verrig by die Tent van Ontmoeting. Jy moet hulle egter reinig en hulle as gewyde gawe aanbied. 16 Onder die Israeliete is hulle immers ten volle aan My afgestaan. In die plek van die eersteling van elke moederskoot, van elke •eersgeborene tussen die Israeliete, het Ek hulle vir my geneem. 17 Want aan My behoort al die eersgeborenes onder die Israeliete, onder mense sowel as diere. Ek het hulle vir My geheilig die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het. 18Ek het die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die Israeliete geneem. 19 Die Leviete, wat uit die geledere van die Israeliete tot beskikking van Aäron en sy seuns is, stel Ek beskikbaar om die dienswerk van die Israeliete in die Tent van Ontmoeting te verrig en om vir die Israeliete versoening te doen, sodat 'n plaag nie die Israeliete tref wanneer hulle die heiligdom nader nie.”
20Moses, Aäron en die hele volksvergadering van die Israeliete het toe so met die Leviete gemaak. Alles wat die Here Moses beveel het oor die Leviete, het die Israeliete net so aan hulle gedoen. 21 Die Leviete het hulleself gereinig; hulle het hulle klere gewas, en Aäron het hulle voor die Here as 'n gewyde gawe aangebied. Aäron het vir hulle versoening gedoen om hulle te reinig. 22 Daarna het die Leviete ingegaan om hulle dienswerk te verrig in die Tent van Ontmoeting onder toesig van Aäron en sy seuns. Soos die Here Moses oor die Leviete opdrag gegee het, presies so het hulle met hulle gemaak.
23Die Here het met Moses gepraat en gesê: 24“ Die volgende geld vir die Leviete: 'n Leviet van vyf-en-twintig jaar en ouer moet ingaan om verpligte diens te doen by die take in die Tent van Ontmoeting. 25Maar op vyftig jaar moet hy uit verpligte diens tree. Hy mag nie verder take verrig nie. 26 Hy mag wel sy mede-Leviete in die Tent van Ontmoeting bystaan om verpligtinge na te kom, maar take mag hy nie verrig nie. So moet jy die Leviete se verpligtinge reël.”

Tans Gekies:

Numeri 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid