Numeri 21

21
Oorwinning oor die koning van Arad
1 Toe die Kanaänitiese koning van Arad, wat in die Negev regeer het, hoor dat Israel in die rigting van Atarim kom, het hy teen Israel gaan veg en sommige van hulle as gevangenes weggevoer. 2 Israel het toe aan die Here 'n gelofte afgelê en gesê: “As U hierdie volk ten volle in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref. ”
3 Die Here het na die versoek van Israel geluister en die Kanaäniete aan hulle oorgegee. Israel het hulle en hulle stede met die banvloek getref en die plek Gorma genoem.
Giftige slange
4 Die Israeliete het van die berg Hor af weggetrek met die pad na die Rietsee om rondom die land Edom te trek. Maar op pad het die volk ongeduldig geraak. 5 Die volk het teen God en teen Moses uitgevaar: “Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterf? Want daar is geen brood of water nie, en ons walg van die ellendige kos.”
6Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur en hulle het die volk gepik. Baie mense van die volk Israel het gesterf. 7 Die volk het na Moses gekom en gesê: “Ons het gesondig, want ons het teen die Here en teen jou uitgevaar. Bid tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.” Moses het toe vir die volk gebid. 8 Die Here het vir Moses gesê: “Maak vir jou 'n slang en sit dit op 'n paal, dan sal elkeen wat gepik is en daarna kyk, bly leef.”
9Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. Wanneer 'n slang iemand pik, en hy kyk na die koperslang, het hy bly leef.
Van Obot na Pisga
(Deut 2:8-23)
10 Die Israeliete het weggetrek en kamp opgeslaan by Obot. 11Daarna het hulle van Obot af weggetrek en kamp opgeslaan by Ije-Abarim in die woestyn, wat langs Moab, aan die oostekant, lê. 12Van daar af het hulle weggetrek en kamp opgeslaan in die Sereddal. 13 Van daar af het hulle weggetrek en kamp opgeslaan oorkant die Arnon in die woestyn wat uitstrek vanaf die grens van die •Amoriete. Die Arnon is immers die grens van Moab; dit lê tussen Moab en die Amoriete. 14Daarom word daar in die Boekrol van die Oorloë van die Here gepraat van:
“Waheb in Sufa en die dale,
die Arnon, 15 en die hange
van die dale wat afvoer
na die woongebied van Ar,
aanliggend aan die grondgebied
van Moab.”
16Daarvandaan is hulle na Beër. Dit is die put waar die Here vir Moses gesê het: “Bring die volk byeen, sodat Ek vir hulle water kan gee.” 17Israel het daarna hierdie lied gesing:
“Wel op, put –
sing vir hom!
18Die put – leiers het dit gegrawe;
vooraanstaandes van die volk
het dit uitgekap,
met 'n heerserstaf en hulle septers.”
Van die woestyn af is hulle na Mattana, 19en van Mattana af na Nagaliël, en van Nagaliël na Bamot, 20en van Bamot na die vallei wat in die gebied van Moab is, naby die kruin van die Pisga, wat 'n uitsig bied oor die wildernis.
Sihon en Og
21 Israel het boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete: 22 “Ek wil deur u land trek. Ons sal nie afdraai na landerye en wingerde nie. Ons sal nie water drink uit 'n put nie. Ons sal net op die Koningspad bly totdat ons deur u grondgebied is.”
23 Sihon wou egter nie aan Israel deurgang verleen deur sy grondgebied nie. Sihon het al sy manskappe byeengebring en Israel tegemoetgetrek in die woestyn. Hy het tot by Jahas gekom en teen Israel geveg. 24Maar Israel het hom met die skerpte van die swaard verslaan en sy land in besit geneem, van die Arnon af tot by die Jabbok, tot teen die Ammoniete, want die grens met die Ammoniete was sterk. 25 Israel het al hierdie stede ingeneem. Hulle het hulle gevestig in al die stede van die Amoriete, in Gesbon en in al die omliggende dorpies, 26 want Gesbon was die stad van Sihon, die koning van die Amoriete. Hy is die een wat oorlog gemaak het teen die vorige koning van Moab, en sy hele land tot by die Arnon uit sy hand geneem het. 27Daarom sê die spotdigters:
“Kom na Gesbon!
Die stad van Sihon moet herbou
en gevestig word.
28Want 'n vuur het uitgegaan
uit Gesbon,
'n vlam uit die dorp van Sihon.
Dit het Ar-Moab verteer,
die besitters van die
offerhoogtes van Arnon.
29Wee jou, Moab!
Jy is vernietig, volk van Kemos.
Sy seuns wat oorleef,
het hy oorgegee,
sy dogters in gevangenskap
aan Sihon, die koning
van die Amoriete.
30 Maar ons het hulle omvergewerp.
Gesbon is vernietig tot by Dibon.
Ons het verwoesting aangerig
tot by Nofag,
met vuur tot by Medeba.”
31Israel het hom gevestig in die land van die Amoriete. 32 Moses het mense gestuur om Jaser te verken, en hulle het Jaser en die omliggende dorpies ingeneem. Hulle het die Amoriete wat daar was, verdryf. 33 Daarna het hulle van koers verander en in die rigting van Basan opgetrek. Og, die koning van Basan, het hulle tegemoet getrek, hy en al sy manskappe, vir 'n geveg by Edreï. 34 Die Here het vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie, want in jou hand gee Ek hom met al sy manskappe en sy land. Jy moet met hom maak wat jy gemaak het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Gesbon regeer het.”
35 Hulle het hom, sy seuns en al sy manskappe verslaan totdat daar van hom niemand oor was wat kon ontvlug het nie. Hulle het toe sy land in besit geneem.

Tans Gekies:

Numeri 21: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid