Numeri 20

20
Water uit 'n rots
1 Die Israeliete, die hele volksvergadering, het in die eerste maand in die Tsinwoestyn aangekom. Die volk het in Kades gebly. Mirjam het daar gesterf, en sy is daar begrawe.
2 Toe daar nie meer water vir die volksvergadering was nie, het hulle teen Moses en Aäron saamgespan. 3Die volk het Moses verwyt; hulle het gesê: “Ag, as ons maar omgekom het toe ons volksgenote voor die Here omgekom het! 4Waarom het julle die geloofsgemeenskap van die Here na hierdie woestyn gebring? Was dit sodat ons en ons vee hier moet sterf? 5Ja, waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons na hierdie slegte plek toe te bring? Dit is nie 'n plek geskik vir saai of vyebome of wingerde of granate nie. Hier is nie eers water om te drink nie.”
6Moses en Aäron het van die byeenkoms af weggegaan na die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Hulle het op hulle gesigte neergeval. Toe verskyn die heerlikheid van die Here aan hulle. 7Die Here het met Moses gepraat en gesê: 8 “Neem die staf en maak die volksvergadering bymekaar, jy en jou broer Aäron. Dan moet julle voor hulle oë met die rots praat; die rots sal sy water gee. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom en die volksvergadering en hulle vee laat drink.”
9Moses het die staf uit die teenwoordigheid van die Here geneem, soos Hy hom beveel het. 10Toe het Moses en Aäron die geloofsgemeenskap voor die rots bymekaar laat kom, en vir hulle gesê: “Luister nou, opstandiges! Moet ons uit hierdie rots vir julle water laat kom?” 11 Moses het sy hand gelig en die rots twee keer met sy staf geslaan. Toe kom daar baie water uit, sodat die volksvergadering en hulle vee kon drink.
12 Maar die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Omdat julle nie vertroue in My gestel het om My heiligheid voor die oë van die Israeliete te erken nie, daarom sal julle hierdie geloofsgemeenskap nie in die land inneem wat Ek vir hulle gegee het nie.”
13 Dit was die water van Meriba, waar die Israeliete die Here verwyt het, en Hy homself toe as heilig aan hulle bekend gemaak het.
Onderhandeling met die Edomiete
(Deut 2:1-8)
14 Moses het boodskappers gestuur vanaf Kades na die koning van Edom: “So sê u broer Israel, ‘U weet self van al die swaarkry wat ons ervaar het. 15Ons voorouers het afgetrek na Egipte en ons het 'n lang tyd in Egipte gebly, maar die Egiptenare het ons en ons voorouers sleg behandel. 16 Ons het na die Here om hulp geroep; Hy het ons hulpgeroep gehoor en 'n •engel gestuur. Hy het ons uit Egipte laat wegtrek. Kyk, ons is nou in Kades, 'n dorp op die grens van u grondgebied. 17 Laat ons asseblief deur u land trek. Ons sal nie deur lande of wingerde trek nie, en ons sal nie water uit putte drink nie. Van die Koningspad sal ons nie links of regs afwyk nie, totdat ons deur u grondgebied getrek het.’ ”
18Maar Edom het vir hom laat weet: “Jy mag nie deur my gebied trek nie; anders trek ek jou met die swaard tegemoet.” 19 Die Israeliete het toe vir Edom laat weet: “Ons sal net op die grootpad deurtrek. As ons van u water drink, ons en ons vee, sal ons die koopprys daarvoor gee – net dit, niks meer nie. Ons wil te voet deurtrek.” 20Maar hy het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.”
Edom het hulle tegemoetgetrek met baie manskappe en 'n sterk mag. 21 So het Edom geweier om aan Israel deurtog deur sy grondgebied te verleen, en Israel het van hom af weggedraai.
Dood van Aäron
22 Die Israeliete, die hele volksvergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor aangekom. 23Die Here het vir Moses en Aäron by die berg Hor op die grens van die land Edom gesê: 24“ Aäron gaan met sy mense verenig word, want hy mag nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete gegee het nie, omdat julle teen my bevel in opstand was by die water van Meriba. 25Neem Aäron en sy seun Eleasar en laat hulle die berg Hor uitklim. 26 Trek Aäron se klere uit en trek dit vir Eleasar, sy seun, aan. Aäron sal met sy mense verenig word en daar sterf.”
27Moses het gedoen wat die Here hom beveel het. Hulle het die berg Hor voor die oë van die hele volksvergadering uitgeklim. 28 Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf en Moses en Eleasar het van die berg afgekom. 29 Toe die hele volksvergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel dertig dae lank oor Aäron getreur.

Tans Gekies:

Numeri 20: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid