Numeri 20:22-29

Numeri 20:22-29 AFR20

Die Israeliete, die hele volksvergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor aangekom. Die HERE het vir Moses en Aäron by die berg Hor op die grens van die land Edom gesê: “ Aäron gaan met sy mense verenig word, want hy mag nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete gegee het nie, omdat julle teen my bevel in opstand was by die water van Meriba. Neem Aäron en sy seun Eleasar en laat hulle die berg Hor uitklim. Trek Aäron se klere uit en trek dit vir Eleasar, sy seun, aan. Aäron sal met sy mense verenig word en daar sterf.” Moses het gedoen wat die HERE hom beveel het. Hulle het die berg Hor voor die oë van die hele volksvergadering uitgeklim. Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf en Moses en Eleasar het van die berg afgekom. Toe die hele volksvergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel dertig dae lank oor Aäron getreur.