NUMERI 20:22-29 - Compare All Versions

NUMERI 20:22-29 ABA (Bybel vir almal)

Hulle het weggegaan van Kades, en die hele volk het by Hor-berg gekom. Hor-berg was langs die grens van die land Edom. Die Here het by Hor-berg vir Moses en Aäron gesê: “Dit is tyd dat Aäron moet sterf. Hy mag nie kom in die land wat Ek vir die Israeliete gee nie, want julle was opstandig teen My by die Meriba-water. Jy moet Aäron en sy seun Eleasar neem en jy moet hulle bo-op Hor-berg bring. Dan moet jy Aäron se klere uittrek en julle moet die klere vir sy seun Eleasar aantrek. Dan sal Aäron daar sterf.” Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hulle het teen Hor-berg opgegaan. Die hele volk het gestaan en kyk. Moses het Aäron se klere uitgetrek en hy het dit vir Aäron se seun Eleasar aangetrek. Toe het Aäron daar bo-op die berg gesterf. Moses en Eleasar het afgegaan van die berg, en toe die volk besef dat Aäron dood is, het al die Israeliete 30 dae lank oor hom gehuil en getreur.

NUMERI 20:22-29 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN die kinders van Israel, die hele vergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor gekom. En die HERE het met Moses en Aäron by die berg Hor, op die grens van die land Edom, gespreek en gesê: Aäron sal by sy volksgenote versamel word, want hy mag nie kom in die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het nie, omdat julle teen my bevel wederstrewig was by die waters van Mériba. Neem Aäron en sy seun Eleásar, en laat hulle op die berg Hor opklim; en trek Aäron se klere uit en trek dit sy seun Eleásar aan; en Aäron sal daar by sy volksgenote versamel word en sterwe. Toe het Moses gedoen soos die HERE beveel het: hulle het op die berg Hor geklim voor die oë van die hele vergadering. En Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit sy seun Eleásar aangetrek. En Aäron het daar gesterwe op die top van die berg, maar Moses en Eleásar het van die berg afgeklim. En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank.

NUMERI 20:22-29 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die hele volk Israel het van Kades af versit en by Horberg aangekom. By Horberg, vlak by die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Die tyd het gekom dat Aäron moet sterf. Hy sal nie in die land kom wat Ek aan die Israeliete gee nie, omdat julle twee julle verset het teen my bevel by die Meribawaters. Vat vir Aäron en sy seun Eleasar saam en gaan na Horberg toe. Daar moet jy Aäron se klere uittrek en dit vir sy seun Eleasar aantrek. Aäron sal daar sterwe.” Moses het gedoen wat die Here beveel het: voor die oë van die hele volk het hulle Horberg uitgeklim. Daar het Moses Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek, en Aäron is daar op die top van die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar afgekom van die berg af. Toe die hele volk Israel verneem dat Aäron dood is, het hulle almal oor hom getreur, dertig dae lank.

NUMERI 20:22-29 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Die Israeliete, die hele volksvergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor aangekom. Die HERE het vir Moses en Aäron by die berg Hor op die grens van die land Edom gesê: “ Aäron gaan met sy mense verenig word, want hy mag nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete gegee het nie, omdat julle teen my bevel in opstand was by die water van Meriba. Neem Aäron en sy seun Eleasar en laat hulle die berg Hor uitklim. Trek Aäron se klere uit en trek dit vir Eleasar, sy seun, aan. Aäron sal met sy mense verenig word en daar sterf.” Moses het gedoen wat die HERE hom beveel het. Hulle het die berg Hor voor die oë van die hele volksvergadering uitgeklim. Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit vir sy seun Eleasar aangetrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf en Moses en Eleasar het van die berg afgekom. Toe die hele volksvergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel dertig dae lank oor Aäron getreur.

NUMERI 20:22-29 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die kinders van Israel, die hele vergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor aangekom. En die HERE het met Moses en Aäron gespreek op die berg Hor, aan die kuslyn van die land Edom, en gesê: Aäron sal by sy volk versamel word, want hy sal nie ingaan in die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het nie, omdat julle teen my woord in opstand gekom het by die water van Meriba. Vat Aäron en sy seun Eleasar en bring hulle op na die berg Hor. Trek dan Aäron van sy klere uit en trek dit sy seun Eleasar aan, en Aäron sal by sy volk versamel word en daar sterwe. En Moses het gedoen soos die HERE beveel het, en hulle het op die berg Hor geklim voor die oë van die hele vergadering. En Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit sy seun Eleasar aangetrek; en Aäron het daar op die top van die berg gesterf, en Moses en Eleasar het van die berg afgekom. En toe die hele vergadering sien dat Aäron dood was, het hulle dertig dae lank oor Aäron getreur, die hele huis van Israel.

NUMERI 20:22-29 DB (Die Boodskap)

Die Israeliete het van Kades af weggetrek en by die berg Hor op die grens van Edom aangekom. Daar het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Aäron se einde is hier. Hy gaan sterf. Omdat julle twee by Meriba so hardkoppig was en nie gedoen het wat Ek gesê het nie, sal hy beslis nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete belowe het nie. Laat Aäron en sy seun Eleasar saam met jou teen die berg Hor uitklim. Daar moet Aäron sy priesterklere uittrek en dit vir sy seun gee om aan te trek. Aäron gaan daar op die berg sterf.” Moses het gedoen wat die Here gesê het. Die drie van hulle is toe saam die berg uit terwyl die volk hulle agterna gekyk het. Bo-op die berg het Moses Aäron sy priesterklere laat uittrek en dit toe vir sy seun Eleasar gegee om aan te trek. Aäron is daar op die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar van die berg afgekom. Toe die volk hoor dat Aäron dood is, het hulle ’n volle 30 dae lank oor hom gehuil en getreur.

NUMERI 20:22-29 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hulle is toe weg van Kades af en die groep Israeliete het by Horberg aangekom. By Horberg, op die grens van Edom, het die HERE vir Moses en Aäron gesê: “Aäron gaan nou by sy vaders versamel word. Hy sal nie ingaan in die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee nie. Julle twee wou mos nie na My luister by die water van Meriba nie. Vat nou vir Aäron en sy seun Eleasar saam met jou en klim uit teen die berg Hor. Trek Aäron se ampsklere uit. Trek dit dan vir sy seun Eleasar aan. Aäron sal daar sterf en met sy vaders verenig word.” Moses het gemaak soos die HERE gesê het. Terwyl die volk staan en kyk, het hulle Horberg uitgeklim. Moses het Aäron se klere uitgetrek en sy seun Eleasar dit laat aantrek. Aäron het daar op die kruin van die berg gesterf. Moses en Eleasar het toe van die berg afgeklim. Toe die mense sien dat Aäron dood is, het die hele Israel 30 dae lank oor hom gerou.