Numeri 20:1-13

Numeri 20:1-13 AFR20

Die Israeliete, die hele volksvergadering, het in die eerste maand in die Tsinwoestyn aangekom. Die volk het in Kades gebly. Mirjam het daar gesterf, en sy is daar begrawe. Toe daar nie meer water vir die volksvergadering was nie, het hulle teen Moses en Aäron saamgespan. Die volk het Moses verwyt; hulle het gesê: “Ag, as ons maar omgekom het toe ons volksgenote voor die HERE omgekom het! Waarom het julle die geloofsgemeenskap van die HERE na hierdie woestyn gebring? Was dit sodat ons en ons vee hier moet sterf? Ja, waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons na hierdie slegte plek toe te bring? Dit is nie 'n plek geskik vir saai of vyebome of wingerde of granate nie. Hier is nie eers water om te drink nie.” Moses en Aäron het van die byeenkoms af weggegaan na die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Hulle het op hulle gesigte neergeval. Toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan hulle. Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “Neem die staf en maak die volksvergadering bymekaar, jy en jou broer Aäron. Dan moet julle voor hulle oë met die rots praat; die rots sal sy water gee. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom en die volksvergadering en hulle vee laat drink.” Moses het die staf uit die teenwoordigheid van die HERE geneem, soos Hy hom beveel het. Toe het Moses en Aäron die geloofsgemeenskap voor die rots bymekaar laat kom, en vir hulle gesê: “Luister nou, opstandiges! Moet ons uit hierdie rots vir julle water laat kom?” Moses het sy hand gelig en die rots twee keer met sy staf geslaan. Toe kom daar baie water uit, sodat die volksvergadering en hulle vee kon drink. Maar die HERE het vir Moses en Aäron gesê: “Omdat julle nie vertroue in My gestel het om My heiligheid voor die oë van die Israeliete te erken nie, daarom sal julle hierdie geloofsgemeenskap nie in die land inneem wat Ek vir hulle gegee het nie.” Dit was die water van Meriba, waar die Israeliete die HERE verwyt het, en Hy homself toe as heilig aan hulle bekend gemaak het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid