Nahum 1

1
Opskrif
1Profesie oor Nineve. Boek van die openbaring aan Nahum, die Elkosiet.
Lied oor die Here se krag
2Die Here is 'n besitlike God,
en Hy wreek Hom.
Die Here neem wraak met woede.
Die Here wreek Hom
op sy teenstanders,
Hy is toornig teenoor sy vyande.
3 Die Here is geduldig,
maar geweldig sterk.
Die Here laat beslis
niks ongestraf nie.
Deur donderstorm en orkaan
loop sy pad,
wolke is die stof van sy voete.
4 Hy berispe die see
en laat dit opdroog;
al die riviere laat Hy wegdroog.
Basan en Karmel verdor,
die bloeisels van Libanon verwelk.
5 Die berge bewe voor Hom,
die heuwels stort ineen.
Die aarde lê verwoes voor Hom,
ja, die wêreld met al sy bewoners.
6 Wie kan staande bly
voor sy verontwaardiging,
wie kan sy brandende toorn
weerstaan?
Wanneer sy woede uitbars soos vuur,
spat rotse voor Hom uiteen.
7Die Here is goed,
'n toevlugsoord in tye
van bedreiging.
Hy sorg vir wie by Hom skuil,
8maar met 'n vloedgolf
vernietig Hy die stad
geheel en al,
sy vyande agtervolg Hy
tot in die duisternis.
9 Wat kan julle teen die Here
beplan?
Hy rig 'n totale vernietiging aan!
Bedreiging sal nie 'n tweede keer
toeslaan nie.
10Selfs al word hulle saamgevleg
tot 'n doringskerm,
en omring deur rankplante,
hulle sal verteer word soos stoppels
wat heeltemal droog is.
11Uit jou het hy weggetrek,
hy wat onheil beraam
teen die Here,
wat boosheid beplan.
12So sê die Here:
“Al was hulle ook in volle sterkte,
so baie as wat hulle was,
soveel is afgemaai
en het verdwyn. ”
“Ek het jou verneder,
maar Ek sal jou nie weer
verneder nie.
13 Daarom gaan Ek sy juk breek
wat op jou rus,
jou stroppe gaan Ek aan stukke ruk.”
14Maar die Here beslis oor jou,
koning:
“Jou naam sal nie meer voortleef nie.
In die huis van jou gode
sal Ek die gesnede beelde
en gegote beelde vernietig.
Ek berei jou graf voor,
want jy is onbenullig. ”
15 Kyk! Op die berge is die voete
van die een wat 'n goeie
boodskap bring,
wat 'n vredesboodskap
laat hoor:
“Vier maar jou feeste, Juda!
Betaal jou geloftes,
want die booswigte
sal nooit weer deur jou trek nie;
hulle is almal uitgeroei.”

Tans Gekies:

Nahum 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid