Miga 7

7
1 Wee my!
Soos ná die insameling
van somervrugte,
soos ná die oes van die druiwe,
is daar geen druiwetros om te eet
of vroeë vye wat ek begeer nie.
2 Die getroues het uit die land
verdwyn,
en daar is glad nie meer opregtes
onder die mense nie.
Hulle almal lê en wag
om bloed te vergiet;
hulle maak jag op mekaar
met nette.
3 Albei hande staan gereed
om kwaad te doen;
die •hoë amptenaar en ook die regter
vra 'n omkoopgeskenk.
Ja, die vername is die een wat sê
wat hy wil hê,
en hulle verbind mense daartoe.
4 Die beste onder hulle
is soos 'n doringstruik,
die opregtes onder hulle
is erger as 'n doringheining.
Die dag van hulle wat jou dophou,
die dag om met jou af te reken,
is op pad.
Nou gaan die verwarring
wat hulle tref, aanbreek!
5 Moenie 'n vriend vertrou nie!
Moenie op 'n boesemvriend
staatmaak nie!
Wees versigtig wat jy sê vir die vrou
wat in jou arms lê.
6 Want die seun hou sy vader
vir 'n dwaas;
die dogter kom in opstand
teen haar moeder,
'n skoondogter
teen haar skoonmoeder
en 'n man se eie huismense
is sy vyande.
7 Maar ek sal vir die Here
op die uitkyk wees,
ek sal bly wag op die God
wat my verlos.
My God sal my hoor.
Nuwe hoop vir God se volk
8Moet jou nie oor my verlustig nie,
my vyand.
Al het ek geval, ek staan weer op;
al sit ek in die donker,
die Here is vir my 'n lig.
9Die striemende toorn
van die Here sal ek dra
– want ek het teen Hom gesondig –
totdat Hy my saak verdedig
en my reg handhaaf.
Hy sal my uitlei na die lig;
ek sal sy geregtigheid
met genoegdoening ervaar.
10 My vyand sal dit sien
en deur skaamte oorval word,
sy wat vir my vra:
“Waar is die Here jou God?”
My oë sal met genoegdoening
na haar kyk.
Sy sal dan vertrap word
soos modder op straat.
11Dit is tyd om jou
verdedigingsmure te herbou,
dit is 'n tyd daardie wanneer
jou grense uitgebrei sal word.
12Dit is die tyd wanneer hulle
tot by jou sal kom,
van Assur en die stede van Egipte,
ja, van Egipte tot by die Rivier,
van see tot see en berg tot berg.
13Die aarde sal 'n verlate wildernis
word oor sy inwoners,
oor die vrug van hulle dade.
14 Pas u volk op met u staf,
die kleinvee wat u eiendom is,
wat eensaam woon in 'n bos
in die middel van
'n vrugbare gebied.
Laat hulle in Basan en Gilead wei,
soos in die ou tyd.
15 “Soos in die dae toe jy
uit Egipteland getrek het,
sal Ek hom weer wonderwerke laat beleef.”
16 Die nasies sal dit sien
en beskaamd staan,
sonder al hulle heldhaftigheid.
Hulle sal die hand op die mond lê,
hulle ore sal doof word.
17 Hulle sal stof lek soos 'n slang,
soos dié wat op die grond seil.
Hulle sal sidderend
uit hulle kerkers kom;
na die Here ons God
sal hulle bewend gaan,
ja, hulle sal vir U bang wees.
18 Wie is 'n God soos U?
U is 'n God wat skuld vergewe,
wat by die oortreding verbygaan
tot voordeel van die oorblyfsel
van sy eiendom,
wat nie vir altyd vasklem
aan sy toorn nie,
maar wat vreugde vind in troue liefde,
19 wat ons weer genadig sal wees,
ons skuld sal vertrap.
U sal al ons sondes in die dieptes
van die see gooi.
20 U sal aan Jakob trou bewys,
aan Abraham die troue liefde
wat U aan ons voorouers
met 'n eed beloof het
in die voortyd.

Tans Gekies:

Miga 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid