Markus 16

16
Opwekking van Jesus
(Matt 28:1-8; Luk 24:1-12; Joh 20:1-10)
1Toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome geurige speserye gekoop, sodat hulle Hom kon gaan salf. 2 Baie vroeg op die eerste dag van die week, kom hulle by die graf, net nadat die son opgekom het. 3Hulle sê toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip van die ingang van die graf af wegrol?” 4Maar toe hulle opkyk, sien hulle dat die klip reeds weggerol was – dit was 'n baie groot klip. 5Toe hulle die graf binnegaan, het hulle 'n jong man met 'n lang wit stola om aan die regterkant sien sit, en hulle was ontsteld. 6Maar hy sê vir hulle: “Moenie ontsteld wees nie. Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is opgewek! Hy is nie hier nie. Kyk, hier is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en vir •Petrus, ‘Hy gaan voor julle uit na Galilea. Daar sal julle Hom sien, soos Hy vir julle gesê het.’ ” 8Hulle het uitgegaan en van die graf af weggehardloop, want bewing en verbystering het hulle beetgepak. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang.
Jesus se verskyning aan Maria Magdalena
(Matt 28:9-10,16-20; Luk 24:13-53; Joh 20:11-29; Hand 1:6-11)
9Nadat Jesus vroeg die oggend op die eerste dag van die week opgestaan het, het Hy eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy voorheen sewe demone uitgedryf het. 10Sy het dit gaan vertel vir die mense wat by Hom was, terwyl hulle treur en huil. 11Toe hulle hoor dat Hy leef en sy Hom gesien het, het hulle dit nie geglo nie.
Jesus se verskyning aan die dissipels
(Luk 24:13-35)
12Hierna het Hy in 'n ander gestalte aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland. 13Hulle het dit vir die res gaan vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie.
14Later het Hy aan die elf verskyn terwyl hulle vir ete aangeleun het. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart, omdat hulle die mense wat gesien het dat Hy opgewek is, nie geglo het nie. 15Hy sê toe vir hulle: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. 16Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal verlos word; maar wie nie tot geloof gekom het nie, sal veroordeel word. 17Hierdie tekens sal hulle wat tot geloof gekom het, vergesel: In my Naam sal hulle demone uitdryf, in nuwe tale praat, 18en slange met hulle hande optel. As hulle iets dodeliks sou drink, sal dit hulle nie kwaad aandoen nie, en op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.”
Jesus se hemelvaart
19Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het aan die regterhand van God gaan sit. 20Hulle het toe uitgegaan en oral gepreek. Die Here het met hulle meegewerk en die prediking bevestig met wondertekens wat daarop gevolg het. •Amen.

Tans Gekies:

Markus 16: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid