Markus 15:1-20
Markus 15:1-20 AFR20
En dadelik, die oggend vroeg, het die leierpriesters met die familiehoofde, skrifkenners en die hele Sanhedrin beraadslaag. Hulle het Jesus toe geboei, weggeneem en aan •Pilatus uitgelewer. Pilatus vra Hom toe: “Is u die koning van die Jode?” Hy antwoord hom: “U sê dit.” Die leierpriesters het Hom van baie dinge beskuldig. Pilatus vra Hom toe weer: “Antwoord u niks nie? Kyk hoeveel beskuldigings bring hulle teen u in!” Maar Jesus het steeds niks geantwoord nie, sodat Pilatus verwonderd was. Tydens elke fees het hy vir hulle, op hulle versoek, een gevangene vrygelaat. Daar was 'n man met die naam Barabbas, wat gevange geneem is saam met die rebelle wat moord gepleeg het tydens 'n opstand. Die skare het na •Pilatus gegaan en gereedgemaak om te vra dat hy soos gewoonlik sal optree. Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” Hy het immers geweet dat die leierpriesters Hom uit afguns oorgelewer het. Die leierpriesters het die skare egter opgestook dat hy eerder Barabbas vir hulle moet vrylaat. Pilatus het hierop gereageer en weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek doen met hom wat julle die koning van die Jode noem?” Hulle het opnuut geskreeu: “Kruisig hom!” Pilatus vra toe vir hulle: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle het nog harder geskreeu: “Kruisig hom!” Pilatus wou die skare tevrede stel, en het Barabbas vir hulle vrygelaat. Maar Jesus het hy laat gesel en oorgelewer om gekruisig te word. Die soldate het Hom weggelei, die paleis, naamlik die pretorium, binne, en die hele kohort soldate byeengeroep. Toe trek hulle vir Hom 'n purperrooi mantel aan, en sit vir Hom 'n doringkroon op wat hulle gevleg het, en begin Hom spottend groet: “Gegroet, koning van die Jode!” Hulle het Hom herhaaldelik met 'n riet oor die kop geslaan, op Hom gespoeg, en knielend aan Hom eer bewys. En nadat hulle Hom bespot het, het hulle die purperrooi mantel afgehaal en sy boklere vir Hom aangetrek. Hulle lei Hom toe weg om Hom te kruisig.


