Markus 12:1-17

Markus 12:1-17 AFR20

Hy het toe met hulle in gelykenisse gepraat: “'n Man het 'n wingerd aangeplant. Hy het dit omhein, 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. Op die regte tyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hy van hulle die opbrengs van die wingerd kon ontvang. Maar hulle het hom gegryp, afgeransel en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy weer 'n ander slaaf na hulle gestuur, en hierdie een het hulle oor die kop geslaan en verneder. Hy stuur toe nog een. En hierdie een het hulle doodgemaak. Hy het ook baie ander gestuur, van wie hulle sommige geslaan en ander doodgemaak het. Hy het nog net een oorgehad – sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle gestuur met die gedagte: Hulle sal my seun met respek behandel. Daardie landbouers het egter onder mekaar gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood, en die erfdeel sal ons s'n wees.’ Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom, die landbouers doodmaak en die wingerd vir ander gee. Julle het tog hierdie Skrifgedeelte gelees, “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword. Van die Here het dit gekom, en dit is wonderlik in ons oë.’ ” Hulle wou Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare. Hulle het immers besef dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle het Hom met rus gelaat en weggegaan. Hulle stuur toe sommige van die •Fariseërs en Herodiane na Hom, sodat hulle Hom op 'n woord kon vastrek. Hulle kom toe en sê vir Hom: “Meester, ons weet dat u opreg is en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar onderrig die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar om belasting aan die keiser te betaal, of nie? Behoort ons te betaal, of behoort ons nie te betaal nie?” Maar Jesus was bewus van hulle skynheiligheid en sê vir hulle: “Waarom toets julle My? Bring vir My 'n denarius sodat Ek daarna kan kyk.” Hulle bring toe een. Hy vra hulle: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” Hulle antwoord Hom: “Die keiser s'n.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom.