MARKUS 12:1-17

MARKUS 12:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het begin om met die mense te praat en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “'n Man het 'n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Hy het 'n muur rondom die wingerd gebou en 'n parskuip gereedgemaak. En hy het 'n hoë toring gebou waarop iemand kon staan om die wingerd op te pas. Daarna het hy die wingerd verhuur aan ander mense. Toe het hy weggegaan. Toe dit tyd word om die druiwe te pluk, het hy 'n slaaf na die mense toe gestuur om die druiwe te gaan haal wat hy moes kry. Die mense het sy slaaf gegryp, hulle het hom geslaan en hom weggejaag. Hulle het niks vir hom gegee nie. Die eienaar van die wingerd het 'n ander slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom op sy kop geslaan en baie slegte dinge gedoen aan hom. Toe stuur die eienaar van die wingerd 'n ander slaaf, en die mense het hom doodgemaak. Die eienaar het nog baie ander slawe gestuur. Die mense het party van die slawe geslaan en hulle het party slawe doodgemaak. “Die eienaar het toe nog net een gehad wat hy kon stuur. Dit was sy seun. Hy was baie lief vir die seun. Die eienaar het toe hierdie seun na die mense toe gestuur, dit was die laaste persoon wat hy gestuur het. Hy het gedink hulle sal sy seun respekteer. Die mense het vir mekaar gesê: ‘Hierdie seun sal eendag al die eienaar se goed kry. Kom ons maak hom dood, dan kan ons alles kry.’ Hulle het die seun gegryp, hulle het hom doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. Wat dink julle? Wat sal die eienaar van die wingerd doen? Hy sal kom en hy sal daardie mense doodmaak en die wingerd vir ander mense gee. Het julle hierdie woorde in die Ou Testament gelees? “ Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die hele gebou geword. Dit is die Here se werk, en dit is vir ons wonderlik.” Die leiers van die Jode het toe probeer om Jesus te laat vang en toe te sluit. Hulle het geweet Hy het die gelykenis vertel om te wys hulle is soos daardie slegte mense. Maar die leiers van die Jode was bang vir die ander mense en daarom het hulle vir Jesus gelos en hulle het weggegaan van Hom. Die Fariseërs en Herodiane het 'n paar mense na Jesus toe gestuur. Hulle wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, hulle wou hê Hy moet probleme kry. Hulle kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer, ons weet jy praat altyd die waarheid. Jy is nie bang vir wat die mense sê van jou nie. Jy kyk nie wie mense is nie, jy doen dieselfde aan almal. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en wat jy vir hulle leer, is die waarheid. Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons die belasting betaal of moet ons dit nie betaal nie?” Jesus het geweet hulle is skynheilig en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom wil julle hê Ek moet iets sê wat vir My probleme kan gee? Bring vir My 'n silwer geldstuk sodat Ek dit kan sien.” Hulle bring toe vir Jesus 'n silwer geldstuk en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?” Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet aan die keiser betaal wat aan die keiser behoort, maar julle moet ook aan God betaal wat aan God behoort.” Hulle was baie verbaas oor wat Jesus geantwoord het.

MARKUS 12:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE begin Hy deur gelykenisse vir hulle te sê: 'n Man het 'n wingerd geplant en 'n heining daarom gesit en 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur om van die landbouers uit die vrug van die wingerd te ontvang; maar hulle het hom geneem en geslaan en hom met leë hande weggestuur. En weer het hy 'n ander dienskneg na hulle gestuur; en hom het hulle gestenig en aan die hoof gewond, hom skandelik behandel en teruggestuur. En weer het hy 'n ander een gestuur, en hom het hulle doodgemaak; ook baie ander — sommige het hulle geslaan en ander doodgemaak. Hy het toe nog een seun gehad, sy geliefde, en hom die laaste na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar daardie landbouers het by hulleself gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, en die erfdeel sal ons s'n wees. En hulle het hom geneem en doodgemaak en buitekant die wingerd uitgewerp. Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. Het julle nie ook hierdie Skrifwoord gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword? Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë. En hulle het probeer om Hom in die hande te kry, maar was bang vir die skare, want hulle het begryp dat Hy die gelykenis met die oog op hulle uitgespreek het. Daarop het hulle Hom verlaat en weggegaan. TOE stuur hulle na Hom sommige van die Fariseërs en van die Herodiane om Hom op 'n woord te betrap. En hulle kom en sê vir Hom: Meester, ons weet dat U waaragtig is en U aan niemand steur nie; want U sien nie die persoon van mense aan nie, maar U leer die weg van God in waarheid. Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of moet ons nie betaal nie? Maar Hy het hulle geveinsdheid geken en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Bring vir My 'n penning, dat Ek dit kan sien. En hulle het dit gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? En hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle was verwonderd oor Hom.

MARKUS 12:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het voortgegaan om in gelykenisse met hulle te praat en gesê: “'n Man het 'n wingerd aangeplant en 'n klipmuur daar rondom gebou. Hy het daarin ook 'n parskuip uitgekap en 'n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en daarvandaan weggegaan. Op die vasgestelde tyd het hy 'n slaaf na die boere toe gestuur om by hulle sy deel van die wingerd se opbrengs te kry. Hulle het hom egter gegryp en geslaan en met leë hande weggejaag. Daarna het hy 'n ander slaaf na hulle toe gestuur. Hulle het hom oor die kop geslaan en hom uitgeskel. Hy het nog 'n ander een gestuur en vir hom het hulle doodgemaak. Later het hy nog baie ander gestuur; hulle het party geslaan en ander doodgemaak. Hy het nog net een oorgehad, sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. Maar daardie boere het vir mekaar gesê: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood; dan sal die erfenis ons s'n wees.’ Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. “Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd nou doen? Hy sal kom en die boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee. Julle het tog al in die Skrif gelees: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë. ” Hulle het toe na 'n plan gesoek om Hom te laat vang, want hulle het besef dat Hy met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Maar hulle was bang vir die mense en het Hom laat staan en weggegaan. Toe stuur hulle 'n paar van die Fariseërs en van die Herodiane na Jesus toe om Hom met 'n vraag in 'n strik te vang. Hulle kom sê toe vir Hom: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie? Moet ons betaal, of moet ons nie betaal nie?” Jesus het egter geweet dat hulle huigel en Hy het vir hulle gesê: “Waarom stel julle vir My 'n strik? Bring vir My 'n muntstuk dat Ek sien.” Hulle bring toe vir Hom een en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?” “Die keiser s'n,” antwoord hulle Hom. Jesus sê toe vir hulle: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” En hulle was stom van verbasing oor Hom.

MARKUS 12:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy het toe met hulle in gelykenisse gepraat: “'n Man het 'n wingerd aangeplant. Hy het dit omhein, 'n parskuip gegrawe en 'n wagtoring gebou. Toe het hy dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. Op die regte tyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hy van hulle die opbrengs van die wingerd kon ontvang. Maar hulle het hom gegryp, afgeransel en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy weer 'n ander slaaf na hulle gestuur, en hierdie een het hulle oor die kop geslaan en verneder. Hy stuur toe nog een. En hierdie een het hulle doodgemaak. Hy het ook baie ander gestuur, van wie hulle sommige geslaan en ander doodgemaak het. Hy het nog net een oorgehad – sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle gestuur met die gedagte: Hulle sal my seun met respek behandel. Daardie landbouers het egter onder mekaar gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood, en die erfdeel sal ons s'n wees.’ Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom, die landbouers doodmaak en die wingerd vir ander gee. Julle het tog hierdie Skrifgedeelte gelees, “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword. Van die Here het dit gekom, en dit is wonderlik in ons oë.’ ” Hulle wou Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare. Hulle het immers besef dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle het Hom met rus gelaat en weggegaan. Hulle stuur toe sommige van die •Fariseërs en Herodiane na Hom, sodat hulle Hom op 'n woord kon vastrek. Hulle kom toe en sê vir Hom: “Meester, ons weet dat u opreg is en u aan niemand steur nie, want u neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar onderrig die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar om belasting aan die keiser te betaal, of nie? Behoort ons te betaal, of behoort ons nie te betaal nie?” Maar Jesus was bewus van hulle skynheiligheid en sê vir hulle: “Waarom toets julle My? Bring vir My 'n denarius sodat Ek daarna kan kyk.” Hulle bring toe een. Hy vra hulle: “Wie se afbeelding en inskripsie is dit dié?” Hulle antwoord Hom: “Die keiser s'n.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom.

MARKUS 12:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Hy het met hulle begin praat deur gelykenisse. 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en 'n heining daarom gesit en 'n plek vir die wynvet gegrawe en 'n toring gebou en dit aan landbouers verhuur en na 'n ver land gegaan. En op die tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur om van die landbouers die vrugte van die wingerd te ontvang. En hulle het hom gevang en hom geslaan en hom leeg weggestuur. En weer het hy 'n ander dienskneg na hulle gestuur; en na hom het hulle klippe gegooi en hom in die kop gewond en hom weggestuur wat skandelik was. En weer het hy 'n ander een gestuur; en hom het hulle doodgemaak, en baie ander; sommige slaan en sommige doodmaak. Toe hy dan nog een seun gehad het, sy geliefde, het hy hom ook die laaste na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar daardie landbouers het onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom, laat ons hom doodmaak, en die erfdeel sal ons s'n wees. En hulle het hom geneem en hom doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. Wat sal die heer van die wingerd dan doen? hy sal kom en die landbouers uitroei en die wingerd aan ander gee. En het julle nie hierdie Skrif gelees nie; Die klip wat die bouers verwerp het, het 'n hoeksteen geword: Dit het die Here gedoen, en dit is wonderlik in ons oë? En hulle het probeer om hom te gryp, maar was bang vir die volk, want hulle het geweet dat Hy die gelykenis teen hulle gespreek het; en hulle het Hom verlaat en weggegaan. En hulle het sommige van die Fariseërs en van die Herodiane na Hom gestuur om Hom in sy woorde te vang. En toe hulle aankom, sê hulle vir Hom: Meester, ons weet dat U waaragtig is en vir niemand omgee nie; want U ag nie die persoon van mense nie, maar leer die weg van God in waarheid: Is dit geoorloof om belasting te gee aan Caesar, of nie? Sal ons gee, of sal ons nie gee nie? Maar omdat Hy hulle huigelary geken het, sê Hy vir hulle: Waarom versoek julle My? bring vir my 'n penning, dat ek dit kan sien. En hulle het dit gebring. En Hy sê vir hulle: Wie s'n is hierdie beeld en opskrif? En hulle sê vir hom: Die keiser s'n. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gee aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle was verwonderd oor hom.

MARKUS 12:1-17 Die Boodskap (DB)

Jesus vertel toe vir hulle verhale om hulle meer van die geestelike dinge te leer: “’n Boer het vir hom ’n pragtige wingerd aangeplant. Hy het baie druiwe geplant en ’n stewige heining omgesit. Verder het hy alles gebou wat nodig was om net daar by die wingerd wyn ook te kon maak. Hy het tot ’n plek gemaak waar ’n wag kon sit om die druiwe op te pas. In ’n stadium moes hy ver gaan reis. Hy verhuur toe sy wingerd met die ooreenkoms dat die huurders vir hom ’n deel van die druiwe-oes sou gee. Toe die oestyd kom, stuur hy een van sy werkers om sy deel van die druiwe te gaan haal. Toe die werker daar aankom, gryp die huurders hom, gee hom ’n paar taai klappe en stuur hom sonder ’n enkele druiwekorrel daar weg. Weer probeer die eienaar - hy stuur nog ’n werker. Met hom het dit nog slegter gegaan as met die vorige een. Die huurders het hom oor die kop geslaan en liederlik beledig. Nog ’n keer het die eienaar probeer, en nog ’n keer, en nog ’n keer. Maar die huurders wou niks weet nie. Hulle het van die werkers vir wie die eienaar gestuur het, aangerand en ander het hulle selfs doodgemaak. “Uiteindelik was daar nog net een oor wat hy kon stuur en dit was sy eie seun. Hy het sy seun baie liefgehad en het eers mooi daaroor gedink. ‘Hulle sal my seun darem sekerlik met groter respek behandel,’ het hy geredeneer. “Toe die seun daar opdaag, sê die huurders vir mekaar: ‘Daar kom die een aan wat hierdie grond eendag gaan erf. As ons hom doodmaak, sal daar niemand wees wat die grond kan erf nie en dan sal ons dit maklik in die hande kan kry.’ Hulle doen dit toe. Sy lyk het hulle sommer daar buite die wingerd gegooi. “Wat dink julle het die eienaar van die wingerd toe gedoen? Ja, hy het self gekom en al daardie huurders laat doodmaak. Die wingerd het hy toe vir ander gegee. Het julle nog nooit die stukkie in die Skrif gelees nie waar daar staan: ‘’n Klip wat die bouers nie eens wou gebruik nie en eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien. Die Here self het dit gedoen, en hoe wonderlik is dit nie vir ons om te sien nie’?” Die Joodse godsdienstige leiers het toe eers planne gemaak om Jesus in die tronk te stop, want hulle het goed geweet dat die verhaal wat Jesus vertel het teen hulle gemik was. Hulle was egter versigtig vir die gewone mense. Daarom het hulle Jesus vir eers gelos en weggegaan. Na ’n rukkie stuur hulle ’n paar mans na Jesus toe. Hulle was van die godsdienstige Jode uit die Fariseërs en van die ondersteuners van Herodes. Hulle moes Jesus probeer uitlok om iets verkeerds te sê wat hulle ’n rede sou gee om Hom te laat vang. Hulle het toe so begin: “Meneer, ons weet jy leer die mense baie dinge oor God. Ons het jou leer ken as iemand wat net die waarheid praat. Jy gee nie om wat hierdie of daardie belangrike mense van jou sê of dink nie, want vir jou is alle mense dieselfde. Jy loop God se pad reguit en leer die mense om dit ook te doen. Sê vir ons, dink jy dit is reg om so baie belasting aan die keiser te betaal? Moet ons hom belasting betaal of nie, want hy is mos ’n koning van ’n vreemde land wat net ons geld wil hê?” Jesus het goed geweet dat hulle ’n klomp tweegesigte was wat Hom wou uitvang. Hy vra hulle toe sommer reguit: “Vir wat probeer julle My uitvang? Bring asseblief vir My ’n geldstuk waarmee ons belasting betaal sodat Ek daarna kan kyk.” Hulle bring toe vir Hom so ’n geldstuk (want daar was in daardie tyd baie verskillende soorte geldstukke en ’n mens kon nie almal vir belasting gebruik nie). Jesus vra toe: “Kyk mooi na die geld; wie se beeld is hierop en wie se naam staan hier geskryf?” “Die keiser s’n,” sê hulle. “Nou ja,” antwoord Jesus, “as die geld met die keiser se beeld daarop die keiser s’n is, gee dit vir hom. Maar onthou, julle is volgens God se beeld gemaak. Julle behoort aan Hom en daarom moet julle seker maak dat julle julleself aan God gee.” Hulle het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was verstom oor die slim manier waarop Jesus hierdie moeilike vrae hanteer het.

MARKUS 12:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe het Jesus vir hulle begin gelykenisse vertel: Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het. Hy het ’n klipmuur daar rondom gebou, ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy die wingerd aan boere verhuur en na die buiteland vertrek. Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur om ’n deel van die druiwe-oes te gaan haal. Maar hulle het hom gegryp en geslaan en met leë hande teruggestuur. Die eienaar het toe nog ’n slaaf gestuur, maar hulle het dié oor die kop geslaan en beledig. Die volgende een het hulle doodgemaak. Hy het nog baie ander gestuur – sommige het hulle geslaan en ander vermoor. Uiteindelik was daar nog net een persoon oor – sy seun vir wie hy innig lief was. Einde ten laaste stuur hy hom na hulle toe met die gedagte: “Hulle sal tog sekerlik my seun spaar.” Maar toe sê daardie boere vir mekaar: “Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood, dan is die erfdeel ons s’n.” Hulle het hom doodgemaak en sy liggaam buitekant die wingerd weggegooi. “Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd doen?” vra Jesus. “Ek sal vir julle sê: Hy sal kom en hulle om die lewe bring en die wingerd aan ander mense verhuur. Julle het tog sekerlik al in die Skrif gelees: ‘Juis daardie klip wat die bouers afgekeur het, Hý het die hoekklip van die gebou geword. Dit is die Here wat dit gedoen het en dit is vir ons wonderlik!’” Die Joodse leiers wou Jesus toe arresteer, want hulle het besef dat Hy hierdie gelykenis op hulle gemik het. Maar hulle was lugtig vir die skare en het Hom toe daar gelaat en weggegaan. Die leiers het ’n aantal Fariseërs en ondersteuners van Herodes gestuur om Jesus in ’n strik te laat trap. Hulle kom vra Hom toe: “Leermeester, ons weet hoe absoluut eerlik u is. U ontsien niemand nie, want u word nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie. Inteendeel, u leer mense wat God van ons verwag sonder om doekies om te draai. Sê nou vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of nie?” Jesus het egter deur hulle onderduimsheid gesien en sê vir hulle: “Hoekom probeer julle My uitvang? Bring vir My ’n Romeinse muntstuk dat Ek daarna kan kyk.” Toe hulle dit vir Hom bring, vra Hy vir hulle: “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?” Hulle het Jesus geantwoord: “Die keiser s’n.” “Wel,” het Hy gesê, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee aan God alles wat Hóm toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom.