Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

Matteus 28:9-20

Matteus 28:9-20 AFR20

Onverwags het Jesus hulle tegemoet gekom en gesê: “Gegroet!” Hulle gaan toe nader, gryp sy voete en aanbid Hom. Daarop sê Jesus vir hulle: “Moenie langer bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat hulle na Galilea moet gaan – daar sal hulle My sien. ” Terwyl die vroue op pad was, het enkele van die wagte na die stad gegaan en alles wat gebeur het, aan die leierpriesters berig. Die leierpriesters het toe met die familiehoofde bymekaargekom, en 'n besluit geneem om 'n groot som geld aan die soldate te gee, met die opdrag: “Sê, ‘Sy dissipels het in die nag gekom en hom gesteel terwyl ons geslaap het.’ En as die prokurator daarvan te hore kom, sal ons hom gerusstel en sorg dat julle nie in die moeilikheid beland nie.” Hulle het die geld toe geneem en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode versprei. Die elf dissipels het na Galilea gegaan, na die berg waarheen Jesus hulle ontbied het. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, maar sommige het getwyfel. Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. ”