Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

MATTEUS 28:9-20 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

MATTEUS 28:9-20 AFR83 (Afrikaans 1983)

Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.” Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate 'n groot som geld gegee en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’ En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.” Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel. Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

MATTEUS 28:9-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom. En Jesus sê vir hulle: Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galiléa moet gaan; en daar sal hulle My sien. EN terwyl hulle op weg was, kom daar sommige van die wag in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het. En nadat hulle saam met die ouderlinge vergader en raad gehou het, het hulle die soldate baie geld gegee en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was. En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is. Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe. EN die elf dissipels het na Galiléa gegaan, na die berg waar Jesus hulle bestel het. En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel. En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

MATTEUS 28:9-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

En toe, meteens, daar staan Jesus voor die vroue, en Hy sê: “Goeiedag, almal!” Hulle hardloop na Hom toe, gryp sy voete vas en aanbid Hom. Daarop sê Jesus vir hulle: “Julle hoef nie bang te wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet Galilea toe gaan en hulle sal My daar sien.” Terwyl die vroue op pad was, het sommige lede van die wag in die stad ingegaan en vir die priesterhoofde alles vertel wat gebeur het. Hulle het toe saam met die familiehoofde beraadslaag. Hulle het vir die soldate ’n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’ As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.” Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is. Hierdie storie is toe onder die Jode versprei en word oorvertel tot vandag toe. Die elf dissipels het toe na Galilea gegaan, na die berg soos Jesus hulle beveel het. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, alhoewel party van hulle nog getwyfel het. Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou. Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

MATTEUS 28:9-20 DB (Die Boodskap)

Terwyl hulle afsit huis toe, kom hulle skielik vir Jesus self teë. Daar het Hy gestaan. “Goeiemôre!” het Hy gesê. Die vroue was totaal uit die veld geslaan. Hulle het voor Jesus neergeval en sy voete vasgegryp. Woorde van aanbidding het oor hulle lippe gestroom. Jesus sê vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat Ek hulle in Galilea sal kry.” Die wagte het intussen die hasepad gekies. Party van hulle is terug stad toe om vir die hoëpriester te gaan vertel wat alles gebeur het. Die Joodse leiers het dadelik weer ’n noodvergadering belê. Hulle het ooreengekom om wat gebeur het stil te probeer hou. Maar hulle moes by die soldate verbykom en bied toe vir hulle ’n aardige bedrag aan. “Vertel asseblief vir almal dat julle deur die nag aan die slaap geraak het. Jesus se vriende het toe die kans gebruik om sy liggaam te steel. Moet julle nie verder oor iets bekommer nie. Ons sal vir alles sorg. As die goewerneur vra waarom julle aan diens geslaap het, sal ons wel ’n storie uitdink wat sal keer dat iets met julle gebeur.” Die soldate het die omkoopgeld gretig gevat. Hulle het die storie wat die Joodse leiers versin het oral gaan rondvertel. Die Jode glo die storie tot vandag toe nog. Die elf dissipels is van Jerusalem af terug Galilea toe. Daar het hulle Jesus op die berg gaan soek, soos Hy gevra het. Hulle het Hom ook daar gekry. Party het nog maar baie onseker gevoel oor alles wat gebeur het. Tog het hulle Hom geloof en aanbid. Jesus het nader gestaan. “God het aan My al die mag gegee wat daar is. Niemand is magtiger as Ek nie. Ek wil hê julle moet iets vir My doen: “Die wêreld is nou julle sendingveld. Gaan oral na almal toe en daag hulle uit om My sonder enige voorwaardes of verskonings te volg. As hulle bereid is om My met hulle hele lewe te volg, moet julle hulle doop op gesag van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. So sal julle hulle inlyf om deel van God se familie te wees. Maar dan is julle nog nie klaar nie. Leer hulle en lei hulle dan in alles wat Ek vir julle geleer het. Vertel hulle hoe belangrik dit is om aan My gehoorsaam te wees en te doen wat Ek vra. “En wees verseker: Ek verwag nie dat julle dit alleen moet doen nie. Elke dag, tot met die wederkoms, sal Ek self by julle wees.”

MATTEUS 28:9-20 ABA (Bybel vir almal)

Skielik het Jesus daar voor hulle gestaan en Hy het vir hulle gesê: “Ek groet julle!” Die vroue kom toe na Jesus toe. Hulle het aan sy voete geraak en Hom aanbid. Jesus het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my vriende dat hulle na Galilea moet gaan. Hulle sal My daar sien.” Die vroue het gegaan om te doen wat Jesus gesê het. Party van die soldate wat die graf opgepas het, het toe ook na Jerusalem gegaan. Hulle het vir die priesterleiers gaan vertel wat alles by die graf gebeur het. Die priesterleiers en die familieleiers het toe bymekaargekom en hulle het planne gemaak. Hulle het baie geld vir die soldate gegee en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense sê: ‘Jesus se dissipels het in die nag sy liggaam kom steel terwyl ons geslaap het.’ As die goewerneur dit hoor, dan sal ons vir hom sê julle is onskuldig. Julle moenie bekommerd wees nie.” Die soldate het toe die geld gevat en hulle het gedoen wat die Joodse leiers vir hulle gesê het. Die Jode vertel tot vandag toe nog hierdie storie wat die soldate oral vertel het. Die elf dissipels het na Galilea gegaan, Jesus het gesê hulle moet daar na 'n berg gaan. Toe hulle vir Jesus sien, het hulle voor Hom gekniel en Hom aanbid. Hulle het dit gedoen, maar hulle was nie heeltemal seker dat dit Jesus was nie. Jesus het na hulle toe gekom en vir hulle gesê: “God het gesê Ek moet regeer oor alles in die hemel en op die aarde. Daarom moet julle gaan en julle moet die mense van al die volke my dissipels maak. Julle moet hulle doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Julle moet vir hulle leer om gehoorsaam te wees aan alles wat Ek vir julle gesê het. En onthou: Ek is altyd by julle, tot die einde van die wêreld.”

MATTEUS 28:9-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Onverwags het Jesus hulle tegemoet gekom en gesê: “Gegroet!” Hulle gaan toe nader, gryp sy voete en aanbid Hom. Daarop sê Jesus vir hulle: “Moenie langer bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat hulle na Galilea moet gaan – daar sal hulle My sien. ” Terwyl die vroue op pad was, het enkele van die wagte na die stad gegaan en alles wat gebeur het, aan die leierpriesters berig. Die leierpriesters het toe met die familiehoofde bymekaargekom, en 'n besluit geneem om 'n groot som geld aan die soldate te gee, met die opdrag: “Sê, ‘Sy dissipels het in die nag gekom en hom gesteel terwyl ons geslaap het.’ En as die prokurator daarvan te hore kom, sal ons hom gerusstel en sorg dat julle nie in die moeilikheid beland nie.” Hulle het die geld toe geneem en gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode versprei. Die elf dissipels het na Galilea gegaan, na die berg waarheen Jesus hulle ontbied het. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, maar sommige het getwyfel. Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. ”

MATTEUS 28:9-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En terwyl hulle gaan om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle tegemoet en sê: Wees gegroet! En hulle het gekom en Hom aan die voete vasgehou en Hom aanbid. Toe sê Jesus vir hulle: Moenie bang wees nie; gaan sê vir my broers dat hulle na Galilea gaan, en daar sal hulle My sien. En toe hulle op pad was, kyk, kom sommige van die wagte in die stad en wys aan die owerpriesters al die dinge wat gebeur het. En toe hulle saam met die ouderlinge vergader het en raad gehou het, het hulle groot geld aan die soldate gegee, en gesê: Julle moet sê, Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons geslaap het. En as dit tot die goewerneur se ore kom, sal ons hom oorreed en jou beveilig. Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer is; en hierdie woord is algemeen bekend onder die Jode tot vandag toe. Toe het die elf dissipels weggegaan na Galilea, na die berg waar Jesus hulle aangestel het. En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, maar sommige het getwyfel. En Jesus het gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen en leer al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle ook al beveel het; en kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.