Matteus 26:36-56

Matteus 26:36-56 AFR20

Toe gaan Jesus saam met hulle na 'n plek wat Getsemane genoem word, en Hy sê vir die dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gaan bid het.” Hy neem toe vir •Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam. En Hy het bedroef en beangs begin word. Toe sê Hy vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak saam met My.” Hy het toe 'n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Hy kom toe by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: “Was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het vir 'n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. ” Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar van die slaap. Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. Toe kom Hy by die dissipels en sê vir hulle: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek, en die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan. Kyk, die een wat My verraai, is naby.” Jesus was nog besig om te praat, toe Judas, een van die twaalf, skielik daar opdaag. Saam met hom was daar 'n groot menigte met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters en familiehoofde van die volk. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom.” Hy het dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Gegroet, Rabbi!” en Hom gesoen. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.” Toe het hulle nader gekom, Jesus gegryp en Hom gevange geneem. En skielik het een van dié saam met Jesus na sy swaard gegryp en dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester getref en sy oor afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. Of dink jy nie Ek kan maar net my Vader aanroep, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot My beskikking stel nie? Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word wat sê dat dit so moet gebeur?” Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug.