Matteus 17:22-27

Matteus 17:22-27 AFR20

Toe hulle in Galilea bymekaarkom, sê Jesus vir hulle: “Die •Seun van die Mens gaan oorgelewer word in die hande van mense. Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal Hy opgewek word. ” En hulle het baie bedroef geword. Toe hulle in Kapernaum aankom, het diegene wat die dubbeldragme invorder, na •Petrus gekom en gevra: “Betaal julle leermeester nie die dubbeldragme nie?” Hy antwoord: “Ja, wel.” Toe Petrus in die huis kom, spring Jesus hom voor, en vra: “Wat dink jy, Simon? Van wie vorder die aardse konings hulle tolgeld of belasting in? Van hulle seuns of van •vreemdelinge?” Toe hy antwoord, “van vreemdelinge”, het Jesus vir hom gesê: “Dan is die seuns mos vrygestel. Maar sodat ons hulle nie aanstoot gee nie, gaan see toe en gooi die hoek in. Vat die eerste vis wat jy uittrek, en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater vind. Neem dit en betaal dit aan hulle namens My en jou.”