MATTEUS 17:22-27 - Compare All Versions

MATTEUS 17:22-27 ABA (Bybel vir almal)

Toe Jesus en die dissipels in Galilea saamgekom het, sê Hy vir hulle: “God sal My, die Seun van die mens, vir die mense gee sodat hulle My kan doodmaak. Maar op die derde dag sal God My weer laat lewe.” Die dissipels het toe baie hartseer geword. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum gekom. Die mense wat die tempel-belasting kollekteer, kom toe na Petrus toe en vra vir hom: “Betaal julle meneer tempel-belasting of nie?” Petrus sê toe: “Ja, Hy betaal.” Toe Petrus in die huis inkom, het Jesus met Petrus gepraat voordat Petrus kon praat. Jesus het vir hom gesê: “Simon, wat dink jy? Wie moet vir die konings op die aarde tol en belasting betaal? Moet hulle kinders belasting betaal, of moet die ander mense die belasting betaal?” Petrus het gesê: “Die ander mense moet belasting betaal.” Toe sê Jesus: “Dan is die konings se kinders vry, dan moet hulle nie belasting betaal nie. Maar ons wil nie hierdie mense wat die belasting kollekteer, kwaad maak nie. Gaan see toe, en vang die eerste vis wat byt. As jy sy bek oopmaak, dan sal jy 'n silwer geldstuk in sy bek kry. Dit is genoeg om ons altwee se belasting te betaal, neem dit en betaal ons tempel-belasting.”

MATTEUS 17:22-27 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En terwyl hulle in Galiléa rondgaan, het Jesus vir hulle gesê: Die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense; en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy opstaan. En hulle het baie bedroef geword. EN toe hulle in Kapérnaüm kom, het die wat die tempelbelasting ontvang, na Petrus gegaan en gesê: Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie? Hy antwoord: Ja. En toe hy in die huis inkom, was Jesus hom voor en sê: Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde tol of belasting — van hulle seuns of van die vreemdelinge? Petrus antwoord Hom: Van die vreemdelinge. Jesus sê vir hom: Dan is die seuns vry. Maar dat ons hulle geen aanstoot mag gee nie, gaan na die see toe, gooi 'n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.

MATTEUS 17:22-27 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe die dissipels weer in Galilea bymekaar was, het Jesus vir hulle gesê: “Die Seun van die mens gaan oorgelewer word in die hande van mense, en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.” Hieroor het hulle baie bedroef geword. By hulle aankoms in Kapernaum het die amptenare wat die tempelbelasting invorder, na Petrus toe gegaan en gesê: “Wat van julle leermeester? Betaal hy dan nie tempelbelasting nie?” “Ja, natuurlik,” antwoord hy. Toe hy in die huis kom, was Jesus hom voor met die vraag: “Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?” Toe Petrus antwoord: “Van ander mense,” sê Jesus vir hom: “Dan is die seuns mos vrygestel. Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie. Gaan see toe en gooi hoek in, en die eerste vis wat byt, moet jy uittrek. As jy sy bek oopmaak, sal jy 'n silwermuntstuk daarin kry. Vat dit en betaal hulle die belasting vir My en vir jou.”

MATTEUS 17:22-27 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe hulle in Galilea bymekaarkom, sê Jesus vir hulle: “Die •Seun van die Mens gaan oorgelewer word in die hande van mense. Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal Hy opgewek word. ” En hulle het baie bedroef geword. Toe hulle in Kapernaum aankom, het diegene wat die dubbeldragme invorder, na •Petrus gekom en gevra: “Betaal julle leermeester nie die dubbeldragme nie?” Hy antwoord: “Ja, wel.” Toe Petrus in die huis kom, spring Jesus hom voor, en vra: “Wat dink jy, Simon? Van wie vorder die aardse konings hulle tolgeld of belasting in? Van hulle seuns of van •vreemdelinge?” Toe hy antwoord, “van vreemdelinge”, het Jesus vir hom gesê: “Dan is die seuns mos vrygestel. Maar sodat ons hulle nie aanstoot gee nie, gaan see toe en gooi die hoek in. Vat die eerste vis wat jy uittrek, en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater vind. Neem dit en betaal dit aan hulle namens My en jou.”

MATTEUS 17:22-27 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En terwyl hulle in Galilea gebly het, sê Jesus vir hulle: Die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van mense. En hulle sal hom doodmaak, en op die derde dag sal hy opgewek word. En hulle was baie jammer. En toe hulle in Kapernaum kom, het die wat belastinggeld ontvang het, na Petrus gekom en gesê: Betaal jou heer nie belasting nie? Hy sê: Ja. En toe hy in die huis kom, het Jesus hom voorgehou en gesê: Wat dink jy, Simon? van wie neem die konings van die aarde tol of belasting? van hulle eie kinders, of van vreemdelinge? Petrus sê vir hom: Van vreemdelinge. Jesus sê vir hom: Dan is die kinders vry. Maar dat ons hulle nie laat struikel nie, gaan na die see en gooi 'n hoek uit en neem die vis op wat eerste opkom; en as jy sy mond oopmaak, sal jy 'n geldstuk kry; neem en gee aan hulle vir my en jou.

MATTEUS 17:22-27 DB (Die Boodskap)

Kort daarna het Jesus se ander volgelinge in Galilea by Hom en sy dissipels aangesluit. Hy sê toe vir hulle: “Weet julle, Ek gaan binnekort in die hande van wrede mense val. Hulle gaan My vermoor. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek is sterker as die dood. Op die derde dag sal Ek weer deur God lewendig gemaak word.” Hierdie nuus was ’n groot skok vir hulle. Kort daarna het amptenare wat elke jaar die tempelbelasting insamel by Petrus se huis in Kapernaum opgedaag. “Betaal daardie leermeester van julle ook sy tempelbelasting?” het hulle vir Petrus gevra. “Natuurlik!” het Petrus geantwoord. Toe Petrus daarna in die huis kom, het Jesus hom ingewag met ’n moeilike vraag: “Simon, sê My, van wie vorder ’n koning belasting in: van sy eie kinders, of van al sy onderdane?” “Van sy onderdane,” het Petrus dadelik geantwoord. “’n Koning se eie kinders betaal tog nie belasting aan hulle pa nie.” “Ja, jy’s reg,” sê Jesus. “’n Koning laat tog nie sy kinders belasting betaal nie. Wel, dan geld dieselfde mos van My. Ek is God se Seun. Daarom hoef Ek nie tempelbelasting te betaal nie. Maar wag, netnou sê die mense lelike dinge oor My. Daarom sal Ek dit liewer maar betaal. “Petrus, gaan gou see toe en gooi jou lyn in. In die eerste vis wat jy vang se bek sal daar genoeg geld wees om ons al twee se tempelbelasting te betaal. Vat dit namens jou en My daar na die belastinggaarders toe.”

MATTEUS 17:22-27 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Weer terug in Galilea het Jesus vir hulle gesê: “God het bepaal dat die Seun van die Mens oorgegee moet word in die hande van mense. Hulle sal Hom doodmaak, maar God sal Hom op die derde dag weer opwek.” En die dissipels was baie geskok om dit te hoor. By hulle aankoms in Kapernaum, het die beamptes wat die tempelbelasting invorder vir Petrus genader met die woorde: “Betaal julle leermeester dan nie die tempelbelasting nie?” Hy antwoord toe: “Natuurlik betaal Hy dit!” Toe hy tuiskom om met Jesus daaroor te praat, spring Jesus hom voor en vra: “Petrus, hoe sou jy sê, van wie vorder die konings van hierdie wêreld tolgeld en belastings in – van hulle eie mense of van die buitelanders wat hulle verslaan het?” Toe hy antwoord: “Van die buitelanders,” sê Jesus vir hom: “Dan is hulle eie mense mos vrygestel. Maar om hulle liewer nie aanstoot te gee nie – gaan jy af see toe en gooi jou lyn in. Die eerste vis wat jy uittrek – maak sy bek oop en jy sal ’n muntstuk daarin kry. Vat dit en dan gaan betaal jy ons al twee se belasting daarmee.”