Matteus 13:13-21
Matteus 13:13-21 AFR20
Daarom praat Ek met hulle deur gelykenisse, omdat hulle siende blind en horende doof is en dus nie verstaan nie. Wat hulle betref, word die profesie van Jesaja vervul: “ ‘Met die ore sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien en glad nie insig kry nie. Want hierdie volk se hart is afgestomp – hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor; hulle het hulle oë gesluit, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai en Ek hulle genees nie.’ “Maar gelukkig is julle oë, want hulle sien, en julle ore, want hulle hoor. •Amen, Ek sê vir julle, baie profete en •regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en hulle het nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en hulle het nie gehoor nie. “Maar wat julle betref, luister nou na die gelykenis van die saaier.” “Wanneer iemand die woord van die •koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is. Dit is die saad wat langs die pad gesaai is. Die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is hy wat hierdie woord hoor en dit dadelik met vreugde ontvang. Maar omdat hy nie wortel geskiet het nie, hou hy net 'n rukkie; as verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hy dadelik.



