MATTEUS 13:13-21

MATTEUS 13:13-21 Bybel vir almal (ABA)

Ek vertel vir die mense gelykenisse, want hulle kyk, maar hulle sien niks. Hulle hoor, maar hulle verstaan nie wat hulle hoor nie. Die profeet Jesaja se woorde is waar wat hy oor hulle geskryf het. Hy het geskryf: “ Julle sal hoor en hoor, maar julle sal niks verstaan nie. Julle sal kyk en kyk, maar julle sal niks sien nie. Hierdie volk het hardkoppig geword. Hulle het opgehou luister sodat hulle nie kan verstaan nie. Hulle het hulle oë toegehou sodat hulle nie kan sien nie en nie kan verstaan nie. Ek wil hulle gesond maak, maar hulle wil nie verander en lewe soos Ek wil hê nie.” Jesus het ook gesê: “Julle is gelukkige mense, want julle oë kan sien en julle ore kan hoor en julle kan verstaan. Ek sê vir julle, en dit is seker: Baie profete en mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here, wou baie graag sien wat julle nou sien, maar hulle het dit nie gesien nie. En hulle wou baie graag hoor wat julle nou hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.” “Julle moet nou luister na wat die gelykenis van die saaier beteken. “Weet julle wat dit beteken wanneer die saad op die voetpad in die koringland geval het? Dit is wanneer iemand die boodskap hoor dat God Koning is, maar nie die boodskap verstaan nie. Die duiwel kom na hom toe en hy vat die woorde weg wat God in sy hart gesaai het. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer iemand die boodskap hoor en glo en bly is daaroor, maar hy is soos 'n plant wat nie diep wortels het nie en net 'n kort tydjie lewe. Hy hoor die boodskap en hy glo dit, maar wanneer die mense hom daaroor verdruk, en hy begin swaarkry, dan hou hy op om te glo.

MATTEUS 13:13-21 Die Boodskap (DB)

Daarom vertel Ek vir hulle verhale. Mense wat nie my boodskap wil hoor nie, sal hier rondstaan en nie ’n woord begryp van wat hier aangaan nie. Mense wat nie wil aanvaar dat God hier en nou werk nie, sal niks verstaan van wat besig is om te gebeur nie. “Wat die profeet Jesaja gesê het, is hier net so waar: julle sal alles hoor wat gesê word, maar dit sal by die een oor ingaan en by die ander oor uit; alles sal voor julle oë gebeur, maar julle sal voorgee dat niks gebeur het nie. Hierdie mense is hardekop. Hulle hou hulle doof en blind. Daarom dring niks tot hulle deur nie. Van wat besig is om te gebeur verstaan hulle net mooi niks nie. “En wat is die gevolg? Hulle wil niks aan hulle verkeerde gesindheid teenoor My doen nie. Daarom sal Ek hulle ook nie geestelik gesond maak nie. “Met julle is dit egter anders. Julle is gelukkig, want julle geestelike oë sien en julle geestelike ore hoor. Baie van julle voorgeslagte wat God gedien het (soos profete en ander gelowiges wat aan God getrou was), sou wat wou gee om net hier te kon wees waar julle is. Hulle sou so graag wou hoor en sien wat julle hoor en sien. Maar natuurlik kan hulle nie, want hulle het nie die kans gehad nie.” “Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan. “Daar het saad op die voetpad geval ... Wel, baie mense luister na die boodskap van God se nuwe wêreld, maar dit sink nie in nie en hulle steur hulle nie daaraan nie. Die Bose sorg dan dat daardie mense baie gou vergeet wat hulle gehoor het. Die Bose pik as’t ware die woorde uit daardie mense se gedagtes uit. “Daar het ook saad in die holtes van die rotse geval ... Party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde, maar net ’n rukkie lank. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie.