“Kyk, Ek gaan my boodskapper stuur
en hy sal 'n pad voor My gereedmaak.
Onverwags sal hy na sy •tempel kom,
die heer na wie julle soek,
die boodskapper van die verbond
na wie julle uitsien.
Kyk, hy gaan kom, ”
sê die HERE, Heerser oor alle magte.
Wie kan die dag van sy koms verduur,
wie kan staande bly wanneer hy verskyn?
Ja, daardie dag is
soos die vuur van die smelter
en soos die loog van wassers.
Hy sal gaan sit as iemand
wat silwer smelt en suiwer.
Hy sal die Leviete reinig
en hulle soos goud en silwer suiwer.
Hulle sal aan die HERE behoort,
en offers in geregtigheid bring.
Dan sal Juda en Jerusalem
se offers weer vir die HERE
aangenaam wees,
soos in die ou dae,
soos in vroeër jare.
“Ek sal na julle toe kom vir die oordeel en Ek sal sonder om te huiwer 'n getuie wees teen towenaars, egbrekers en wie vals sweer; teen hulle wat dagloners, weduwees en vaderlose kinders verdruk en hulle wat •vreemdelinge wegwys en nie ontsag vir My het nie,” sê die HERE, Heerser oor alle magte.
“Ek, die HERE, het immers nie verander nie. Maar julle Jakobskinders kry nie end nie. Sedert die tyd van julle voorouers wyk julle van my voorskrifte af en kom dit nie na nie. Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Maar julle vra, ‘Hoe moet ons terugkeer?’ Mag 'n mens God besteel? Maar julle besteel My! En dan vra julle nog, ‘Hoe besteel ons U?’ Van tiendes en •wydingsgeskenke! Daar rus 'n vloek op julle, maar vir My bly julle beroof, julle hele nasie. Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets My hierin,” sê die HERE, Heerser oor alle magte, “of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie.