Lukas 4:1-13

Lukas 4:1-13 AFR20

Vol van die Heilige Gees, het Jesus van die Jordaan teruggekeer en is deur die Gees in die woestyn gelei, waar Hy veertig dae lank deur die Duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, en aan die einde van die tyd was Hy honger. Die Duiwel het vir Hom gesê: “As u die •Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie.’ ” Hierop het die Duiwel Hom na 'n hoë plek geneem, en in 'n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys, en die Duiwel sê vir Hom: “Ek sal u al hierdie mag gee en hulle prag, want dit is aan my gegee , en ek gee dit aan wie ek wil. As u my aanbid, sal dit alles u s'n wees.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ ” En die Duiwel het Hom na Jerusalem geneem, en Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue laat staan. Toe sê hy vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! Daar staan immers geskryf, “ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee om jou te beskerm,’ en ook, “ ‘Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie dalk teen 'n klip jou voet stamp nie.’ ” Maar Jesus antwoord hom: “Die Skrif sê ook, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ ” Die Duiwel het, nadat hy met al hierdie versoekings klaar was, vir 'n tyd lank van Jesus weggebly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid