Lukas 3

3
Optrede van Johannes die Doper
(Matt 3:1-12; Mark 1:1-8; Joh 1:19-28)
1In die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius was Pontius •Pilatus prokurator van Judea. Herodes was tetrarg van Galilea, en Filippus, sy broer, was tetrarg van Iturea en Tragonitis, en Lisanias was tetrarg van Abilene. 2In die tyd toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het daar in die woestyn 'n woord van God na Johannes, seun van Sagaria, gekom. 3Hierna het hy in die hele omgewing van die Jordaan rondbeweeg en 'n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig, 4soos daar geskryf staan in die •boekrol met die woorde van die profeet Jesaja:
“'n Stem van iemand wat roep in die woestyn,
‘Maak die pad vir die Here gereed,
maak sy paaie reguit!
5Elke kloof sal opgevul
en elke berg en heuwel sal platgemaak word.
Maak die krom paaie reguit,
en die hobbelrige paaie gelyk!
6 Dan sal alle mense sien
hoe God verlossing bring.’ ”
7Vir die skare wat in groot getalle na Johannes gestroom het om deur hom gedoop te word, het hy gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? 8Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Moenie vir julleself begin sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê reeds teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
10Die skare vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”
11En hy het hulle geantwoord: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat niks het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”
12Daar het ook •tollenaars gekom om gedoop te word , en hulle het hom gevra: “Meester, wat moet ons doen?”
13Hy het hulle geantwoord: “Moenie meer invorder as wat vir julle voorgeskryf is nie.”
14Ook soldate het hom gevra: “En ons, wat moet ons doen?” Vir hulle het hy gesê: “Moenie geld van mense afpers nie, en moet hulle nie vals aankla nie, maar wees tevrede met julle lone.”
15Omdat die volk allerhande verwagtings gehad het, het almal in hulle harte gewonder of Johannes nie dalk die Christus is nie. 16Johannes het hulle egter geantwoord: “Ek doop julle wel met water, maar daar kom iemand wat sterker as ek is, en ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy hooivurk in sy hand om sy dorsvloer deeglik skoon te maak en om die koring in sy skuur te versamel, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.”
18Johannes het die volk ook oor baie ander dinge vermaan, en die goeie boodskap aan hulle verkondig.
19 Hy het die tetrarg Herodes herhaaldelik tereggewys oor Herodias, sy broer se vrou, en oor al die booshede wat Herodes gepleeg het. 20Afgesien van al hierdie dade het Herodes Johannes ook nog in die tronk laat opsluit.
Doop van Jesus
(Matt 3:13-17; Mark 1:9-11; Joh 1:29-34)
21In die tyd toe die hele volk gedoop is, is ook Jesus gedoop. En terwyl Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan, 22en die Heilige Gees het in 'n sigbare vorm soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar het ook 'n stem uit die hemel gekom: “Jy is my geliefde •Seun. Oor Jou verheug Ek My.”
Geslagsregister van Jesus
(Matt 1:1-17)
23Jesus was ongeveer dertig jaar oud toe Hy met sy werk begin het.
Hy is beskou as die seun van Josef,
seun van Eli,
24seun van Mattat,
seun van Levi,
seun van Melgi,
seun van Jannai,
seun van Josef,
25seun van Mattatias,
seun van Amos,
seun van Nahum,
seun van Hesli,
seun van Naggai,
26seun van Mahat,
seun van Mattatias,
seun van Semeïn,
seun van Josek,
seun van Joda,
27seun van Johanan,
seun van Resa,
seun van Serubbabel,
seun van Sealtiël,
seun van Neri,
28seun van Melgi,
seun van Addi,
seun van Kosam,
seun van Elmadam,
seun van Er,
29seun van Josua,
seun van Eliëser,
seun van Jorim,
seun van Mattat,
seun van Levi,
30seun van Simeon,
seun van Juda,
seun van Josef,
seun van Jonam,
seun van Eljakim,
31seun van Melea,
seun van Menna,
seun van Mattata,
seun van Natan,
seun van Dawid,
32seun van Isai,
seun van Obed,
seun van Boas,
seun van Sala,
seun van Nagson,
33seun van Amminadab,
seun van Admin,
seun van Arni,
seun van Gesron,
seun van Peres,
seun van Juda,
34seun van Jakob,
seun van Isak,
seun van Abraham,
seun van Tera,
seun van Nahor,
35seun van Serug,
seun van Rehu,
seun van Peleg,
seun van Heber,
seun van Sala,
36seun van Kenan,
seun van Arpagsad,
seun van Sem,
seun van Noag,
seun van Lameg,
37seun van Metusalag,
seun van Henog,
seun van Jered,
seun van Mahalalel,
seun van Kenan,
38seun van Enos,
seun van Set,
seun van Adam,
seun van God.

Tans Gekies:

Lukas 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid